In hierdie artikel word die volgende probleemstelling ondersoek: In watter mate kan pastorale begeleiding ’n…

DIE SELF-SNY FENOMEEN ONDER JONGMENSE: PERSPEKTIEWE VANUIT DIE PRAKTIESE TEOLOGIE
Die verskynsel van self-sny (self-mutilering) laat die gemiddelde persoon met gevoelens van ongemak, angs en selfs weersin. Ouers verkies om nie daaroor te dink nie. Skole het nie sisteme in plek om dit te hanteer nie. Daar is nie baie beraders wat kans sien en ook hulself bevoegd voel om hierdie probleem aan te pak nie. Waar kerke wel bereid is om te erken dat die probleem bestaan, sien hulle dit egter as ’n aangeleentheid ‘daar buite,’ en wat beslis nie binne ons veilige mure sal kop uitsteek nie – Christene is immers nie betrokke by daardie tipe gedrag nie! (Scholtz & Fiedeldey 1994:138; Shamos 2007:256).