Vergifnis – Suiderkruis Gemeente Jeuggroep

VERGIFNIS

(Suiderkruis Belydeniskamp – 25 Okt 20)

Mat 18:22 (Boodskap): “Jy moet ander mense elke keer vergewe as hulle jou

sleg behandel. Moenie tel hoeveel keer jy ander mense vergewe nie. Vergifnis hou net aan en aan.”

Gedurende 1915 was daar ʼn godsdienstige en etniese konflik waarin meer as ʼn miljoen burgers van Armenië deur die Turke om die lewe gebring is

… in ʼn stadium het ʼn Turkse militêre eenheid ʼn dorpie aangeval

… al die volwassenes is uitgemoor en al die jong vroue is gevange geneem

… in een huis het die offisier in beheer, nadat die ouers doodgemaak is, die dogters vir sy soldate gegee en die oudste dogter wat die mooiste was, vir homself gehou

… na verskeie maande van slawerny en seksuele misbruik het sy van hom ontvlug en begin om haar lewe van nuuts af te bou

… uiteindelik het sy opleiding as ʼn verpleegster ontvang en dit haar loopbaan gemaak

Een nag, verskeie jare later, terwyl sy aan diens was in die intensiewe eenheid van ʼn hospitaal, het sy die gesig herken van ‘n uiters siek pasiënt

… hy was die offisier wat van haar ʼn slaaf gemaak het en haar misbruik het en ook haar ouers vermoor het

… sy toestand was op daardie stadium uiters kritiek – hy was meeste van die tyd in ʼn koma en het dag en nag haar aandag en sorg vereis

… eers na ʼn baie lang tyd waarin dit by tye baie sleg gegaan het, het hy begin herstel

… en toe op ʼn dag, toe hy uiteindelik weer sy kragte terug gekry het, het ʼn dokter met hom gepraat oor die verpleegster wat so intensief na hom omgesien het

“Jy kan jouself baie gelukkig ag,” het die dokter gesê, “sonder haar toegewyde sorg sou jy dit nooit gemaak het nie!”

… later toe hulle alleen is, het die pasiënt na hierdie verpleegster gestaar en gesê: “Ek wou al ʼn paar dae lank vir jou vra of ons nie mekaar êrens reeds ontmoet het nie?”

… “Ja,” het die verpleegster gesê, “ons het vantevore ontmoet.”

… en toe het sy haar identiteit bekend gemaak

“Ek verstaan dit nie,” het hy gesê, “waarom het jy my nie doodgemaak toe jy die

geleentheid gehad het nie – waarom het jy my nie maar net gelos om dood te gaan

nie?”

“Omdat ek ʼn volgeling is van iemand wat gesê het, ‘julle moet jul vyande lief hê,’” het die verpleegster geantwoord

Sy kon inderdaad 70×7 vergewe

Vergifnis is ‘n saak wat elkeen van ons elke dag raak

‘n Mens is voortdurend in situasies waar jy weer en weer bereid moet wees om te vergewe

Hierdie proses is nooit afgehandel nie – Jesus het gesê dit gaan voort 70×7 keer

In die praktyk is die swaar deel van vergifnis gewoonlik daardie gevalle waar iemand jou geweldig te na gekom het – jou verkleineer het – emosioneel afgebreek het – skade berokken het – beskinder het – jou fisiese seergemaak het

Oor die jare het jy dit alles met jou saamgedra en dit het al groter en groter gegroei

Hoe kry jy dit nou uit jou sisteem uit – hoe kry jy hieroor oorwinning?

Kom ons kyk na ʼn paar belangrike dinge wat ons dalk kan help in hierdie proses

Eerstens belangrik om te onthou: om te vergewe impliseer altyd ‘n risiko

Jy stel jouself ongelooflik bloot want jy weet nie altyd wat om te verwag van die ander persoon nie – jy sal dus vooraf reeds die risiko en die prys moet bereken

Aan die ander kant: om nie hiervoor kans te sien nie en terug te deins = net so ‘n groot risiko want bitterheid en onvergewensgesindheid werk net soos suur

Dit sal daardie houer waarin dit gegooi word, wegvreet en beskadig totdat dit uiteindelik op die vloer uitloop

… net so wanneer ek dit diep in my hart bêre en vertroetel > dan vreet dit my emosies en gevoelens totdat dit uiteindelik deurbreek in my liggaam in en vir my geheel en al aftakel

Navorsing en praktyk bevestig: bitterheid en wrok en haat kan uiteindelik enige siekte in jou liggaam aktiveer

Wanneer ek weier om te vergewe, is ek dus eintlik besig om myself ontsettend skade

te berokken

  • Verhaal van vrou by Pierre-Pont – ruk haarself op die Vrydagaand toe hulle vir haar sê sy sal familielede moet vergewe na 30jr se familiestryd

Die pakkie van bitterheid moet agterbly

Iemand het op ‘n keer gesê: “Onvergewensgesindheid is om ‘n dooie lyk aan jouself

met ʼn tou vasgebind te hê en dit oral agter jou aan te sleep.”

Nog ʼn beeld: Jy drink ʼn botteltjie gif met die idee dat dit die ander ou skade sal berokken vir wie jy kwaad is en nie wil vergewe nie

Hierdie is so ‘n belangrike saak en daarom belangrik dat ons van vroeg af in ons lewe hierdie beginsel leer toepas

Geleenthede vir praktiese ervaring is legio – sommer al daar in die kleuterskool het ons al seergekry deur maatjies se woorde of optredes

Talle mooi romantiese verhoudings en huwelike is al beëindig omdat nie een van die twee ooit geleer het om te kan sê “Ek is jammer,” en “Ek vergewe jou.”

[In huwelikskategese gewoonlik deel van standaard vrae: het jy dit geleer in jou ouerhuis – kan jou verloofde sê hy/sy is jammer]

Ons het almal so ‘n ontsettende behoefte hieraan omdat niemand van ons volmaak is nie

Ons sê dus dat die pakkie met bitterheid agter moet bly – ons kan nie dit saam met ons na more en oormore neem nie – die tou wat die lyk saamsleep moet gesny word!

  • Hierdie beginsel word treffend deur die verhaal van ʼn sekere Joodse rabbi geïllustreer – sy hele gesin is in die gaskamers van die Duitse konsentrasiekampe gedurende die Tweede Wêreld Oorlog oorlede. Aan die einde van die oorlog het hy besluit om na die VSA te emigreer. Op die hawe, voordat hy finaal op ʼn boot geklim het, het joernaliste met hom ʼn laaste onderhoud gehad. Een van hulle het aan hom gevra of hy vir Hitler kon vergewe oor dit wat aan sy gesin gedoen is. Die rabbi se antwoord was toe die volgende: Ek het vir Hitler vergewe want ek wil nie vir Hitler saam met my Amerika toe neem nie!

Ek worstel moontlik met ‘n jarelange diep onderliggende bitterheid agv dinge wat my ontneem is

Dinge wat sedert ek baie klein was, my toegekom het en wat ek nooit ontvang het nie

… die seën wat ek moes ontvang en wat om een of ander rede van my weerhou is

Dit kan selfs verband hou met die tyd toe my ma met my swanger was – ouers wou dalk eerder ʼn seun gehad het – of onwelkome swangerskap en ma het probeer om my te aborteer

  • Vrou van 45 – hele lewe lank met depressie – het egter uitgevind dat ma haar probeer aborteer het – in gebed het alles donker geword – vergifnis teenoor ma was belangrike sleutel

Indien daar dus ʼn groot stuk pyn in jou lewe is, veral wat betref jou ouers dan moet jy saam met iemand deur jou hele verhaal werk en deur dit bid tot by punt van vergifnis

… dit sou ook verband kan hou met iets soos aanneming – al die waarop vrae > uiteindelik bitter teenoor God

Soms nodig om God te ‘vergewe’

Ek neem Hom kwalik omdat Hy nie die pyn en die onreg in my lewe gekeer het nie

Gevolglik nodig om êrens my opstand en bitterheid teenoor Hom te bely = dit is die werklike betekenis van God te ‘vergewe’ want Hy kan nie sonde doen nie

Trauma gee egter tonnelvisie > kan nie die groter prentjie raaksien nie

Moontlik het ekself tot dusver geen voorbeeld of rolmodel in my ouerhuis gehad het van vergifnis nie

Ek het nooit prakties gesien en ervaar hoe mense mekaar behoort te vergewe nie

… nooit gesien het hoedat my ouer/ouers om vergifnis gevra het en hul gedrag dan daarby probeer aanpas het nie

Uiteindelik raak dit alles ook my verhouding met my Hemelse Vader

As hierdie proses ver terug reeds verkeerd geloop het, is dit vir my moeilik om Sy vergifnis te aanvaar as ‘n werklikheid

Die wonderlike is egter die feit dat daar altyd genesing en heling moontlik is – maak nie saak hoe groot die littekens en hoe diep die pyn nie

Die Skrif sê: “Deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”

Woede kan soms ook die proses van vergifnis blokkeer

Sarah Trollinger vertel van Zeke wat 15 jaar oud was en met ’n geweldige woede probleem geworstel het en uiteindelik in een van hul klinieke gehelp is. Zeke verwoord haar eie verhaal soos volg:

“Ek was sewe jaar oud toe my ouers geskei is. My pa en ma het dikwels geveg en baklei en dan het ek in die kas weggekruip. My pa sou dikwels op my skree en my met woorde verkleineer. Hy sou vir my sê dat ek ‘stupid’ en dom en opgemors is. Hy het my totaal verwerp laat voel en dit het gevoel asof alles rondom my aan die tuimel was. Dit het gevoel asof almal vir wie ek baie lief was net weggegaan het, soos my boetie en my ouma wat beide oorlede is. Ek is ook geleer om nooit enige swakheid te toon nie en nooit toe te gee nie – gevolglik het ek altyd hierdie leuens met my saamgedra.

Daar was lang tye dat ek nie my pa gesien het nie – wanneer hy wel tuis was dan het hy my skuldig laat voel en my ook beskuldig as die oorsaak van al hul probleme. Ek het ’n vrees vir hom gehad omdat hy my gereeld geslaan het en dan vir my gesê het dat ek mors net alles op. Wanneer hy woede-uitbarstings gehad het dan is ek gewoonlik deur hom mishandel. Ek het ook ’n vrees gehad om te huil, veral nadat hy my eendag deur die gesig geklap het omdat ek gehuil het en toe aan my opdrag gegee het om nie weer te huil nie.

Toe ek dertien was, het ek al hoe meer in gevegte betrokke geraak. My woede was presies soos my pa s’n. Ek het gerebelleer teen elke gesagsfiguur. Verkeerde vriende het my aanvaarbaar laat voel en ons sou gevegte met andere aanknoop en net verwoestend optree. Ek het in soveel gevegte betrokke geraak dat ek later gevang is en in ’n bewaringsentrum geplaas is. As gevolg hiervan het ek betrokke geraak by vriende wat nog erger was. Ek het toe ook begin om dwelms te gebruik en dit ook te verkoop.

Nadat ek by die House of Hope gearriveer het, het ek ingeskakel by klasse waarin ek geleer het hoe om my woede te beheer. My pa is ook betrek by sommige van die beradingsessies en hy het my uiteindelik om vergifnis gevra en ek het hom vergewe. Afgesien van die terapie is daar ook baie klem gelê op gebed met betrekking tot al my pyn en hartseer van die verlede. Ek moes ook belydenis doen van ’n eed wat ek as kind geneem het dat ek nooit soos my pa wil wees nie. Dit alles het uiteindelik gelei tot genesing en heling.”

  • Verwerping lei dikwels tot bitterheid

Min mense kan sê dat hulle nie êrens verwerping beleef het nie

Jy ontvang die boodskap: jy is nie goed genoeg nie – jy is nie op standaard nie – jy is nikswerd – jy gaan nêrens in die lewe kom nie

  • ‘n Jong getroude vrou vertel van ‘n brief wat sy geskryf het toe sy 8jr oud was – dit was aan haar pa gerig wat sy nooit geken het nie agv ‘n egskeiding

“Ek wil net hê dat jy van my moet weet,” het sy geskryf, “Ek hou van hopscotch, biologie en om dinge te dissekteer. Jy hoef nie terug te antwoord nie, maar ek wil net hê dat jy moet weet van jou dogter.”

Uiteindelik het haar brief onoopgemaak terug gekom met woorde groot op die agterkant geskryf: “Stuur terug na afsender – stuur geen verdere briewe meer nie!”

In trane het sy die impak van hierdie verwerping op haar verdere lewe beskryf:

“Altyd sedertdien het ek aanvaarding by mans gesoek deur verhoudings – eintlik haat ek dit! Ek is eintlik ‘n feminis, en tog het ek hierdie onversadigbare behoefte aan aanvaarding deur mans.” > en sy verkoop haar liggaam in ʼn soeke na haar pa se liefde

Ons kan sê dat hier was ‘n vakuum wat haar pa eintlik moes gevul het – en nou is dit onversadigbaar

Die praktyk bevestig egter: God die Vader, wat die volmaakte Pa is, kan dit wel doen

deur ‘n proses van diep innerlike genesing en heling

  • Bitterheid is soms baie subtiel en hy kan diep wegkruip

Hy kan soms so ver wegkruip dat dit slegs die Gees van God is wat dit vir jou kan oopmaak

Leanne Payne: woon konferensie oor heling by vir predikante en beraders

Tydens een sessie: spreker bid vir al die onverwerkte emosionele pyn van diegene in die gehoor

Tydens die gebed beleef sy in haar binneste asof die HG duidelik vir haar sê: “Vergewe jou pa omdat hy doodgegaan het.”

Haar pa het gesterf toe sy 3jr oud was – sy het egter nooit besef dat sy moontlik in haar onderbewussyn sy dood as persoonlike verwerping kon beleef nie en gevolglik ‘n bitterheid koester

Aanvanklik gedink: hoe belaglik, om jou pa te vergewe omdat hy gesterf het!

… nogtans beleef dat die stem van die HG al dringender geword het

Uiteindelik het sy in gehoorsaamheid haar pa vergewe

Drie dinge gebeur hierna:

  • Sy ervaar genesing van ‘n stuk innerlike pyn wat sy vir jare saam met haar gedra het en nooit heeltemal kon verwoord nie
  • Die verdere interessante feit: van daardie punt af kon sy baie gemakliker in haar verhouding tot mans optree
  • Verder ook: ‘n ontstellende droom wat telkens in haar lewe herhaal het, het opgeklaar

… ‘n droom waarin sy angstig na haar pa soek en uiteindelik sy kis vind en dan nogtans altyd die hoop: miskien lewe hy nog

  • Voordat ek kan vergewe moet ek soms eers rou oor my verliese

Ongelukkig is dit so dat talle van ons verliese beleef het ten opsigte waarvan ons nie toegelaat was om te rou nie > blokkeer vergifnis

Die wonde van hierdie verliese mag wel bedek wees met littekens, maar die infeksie van onverwerkte hartseer gaan voort om te sweer onder die oppervlakte

Daarom kan genesing by geleentheid impliseer dat hierdie wonde weer oopgemaak moet word om die infeksie te hanteer en die onverwerkte hartseer deur te werk

In sulke gevalle soms nodig om te treur en te rou, nie slegs oor die dinge wat gebeur het nie, maar ook oor die dinge wat nie gebeur het nie

  • Meisie in hoërskool: 3jr verhouding val oornag plat

Pa se reël: niemand in hierdie huis mag huil nie – ons is sterk mense

Sy verval in depressie en op medikasie (dit nog nooit vantevore nodig gehad nie)

Haar pa het dus haar rouproses geblokkeer > sy gaan waarskynlik jare neem om oor die verlies te kom en daar gaan ʼn klomp bitterheid wees waarmee sy baie gaan worstel.

Saam met die rouproses is daar dikwels ook trauma wat vasgesteek het waarvoor gebid moet word – dit blokkeer die rouproses en die vergifnis proses

  • Vrou wie se man oorlede is aan Vigs – net voor sy dood aan haar genoem dat hy in seksuele verhouding was > Vigs – net sy en dr weet dit en sy kan dit met

niemand deel nie – 5jr later kan sy steeds nie oor die skok kom nie

Uiteindelik blyk as kind gemolesteer deur pa en oom – diepe wrok teen alle mans en nou kom doen haar man ook nog hierdie onreg aan haar

In gebed pa en oom vergewe en toe fokus op trauma van die nuus kort voor man se dood en ook die skok van sy dood > daarna kon sy hom ook vergewe en volle vryheid ervaar.

  • Vergifnis impliseer ‘n wilsbesluit

Al voel ek nie noodwendig emosioneel lus om dit te doen nie, moet ek êrens die rasionele besluit neem

“In forgiving you send your will ahead by express (vliegtuig); your emotions generally come later by slow freight (skip).”

Die volgende twee gevalle illustreer iets van die belangrikheid van so ‘n innerlike wilsbesluit:

  • Aya Ravid het saam met haar gesin in Dresden in Duitsland gewoon, ná aan die Tjeggo-Slovaakse grens

… as gevolg van die toename in geweld teen Jode het haar ouers in 1938 haar saam met ‘n paar ander Joodse meisies uit die land gesmokkel

… hulle is na Palestina geneem om op ‘n Kibbutz te gaan woon

… ‘n aantal jare later het Aya vir die eerste keer terug gekeer na Dresden om toe uit te vind dat haar ouers tydens die oorlog na Auschwitz geneem is om daar tereg gestel te word

… soos wat die jare verby gegaan het, het Aya ‘n worstelstryd gehad om saam te kon leef met haar verskriklike herinneringe

… sy kon nooit op ‘n punt van vergifnis kom waar sy ontslae kon raak van die diepte van bitterheid waarin sy vasgevang was nie

… terwyl sy nou reeds ‘n bejaarde persoon is, is haar pyn nog net so ‘n realiteit en net so intens as dekades gelede

  • In kontras met Aya was daar egter Corrie ten Boom wat gedurende dieselfde

oorlog ‘n gevangene was van die Ravensbruck konsentrasie kamp

… dit was omdat sy skuiling gebied het aan Joodse persone in haar huis in Haarlem, Nederland

… sy het self geweldig gely onder die vervolging deur die Nazi’s asook die beproewinge van die konsentrasie kamp

… haar suster, Betsie, het in die kamp van Ravensbruck gesterf

Na die oorlog het Corrie by geleentheid as spreker opgetree in ‘n kerk in Munich

… tydens haar toespraak het sy in die gehoor ‘n man herken wat een van die Duitse offisiere was in die kamp van Ravensbruck

… toe hy agterna na vore kom om haar te bedank vir haar boodskap van Jesus Christus wat gesterf het vir almal se sondes, was sy gekonfronteer met ‘n oorweldigende pynlike beslissing

Kon sy hierdie man vergewe? Kon sy sy hand skud?

… soos wat sy egter toegelaat het dat die liefde van Christus haar lei, het sy ‘n abnormale vryheid in haar binneste beleef en was sy in staat om hierdie man te vergewe vir dit wat hy gedoen het aan haar en aan haar suster Betsie

… in daardie paar sekondes was die verlede vir haar uitgesorteer

Aya en Corrie is dus beide met keuses gekonfronteer en beide moes sekere

wilsbeslissings neem betreffende vergifnis, en wat uiteindelik die res van hul lewens beïnvloed het

  • Maar dis onregverdig want daardie persoon stap nou skotvry weg!

Dit voel of al die onreg teen my net deur die vingers gesien word!

God sê egter: Die wraak kom My toe – gee jy daardie persoon maar net vir My > Ek sal verantwoordelikheid neem vir hom/haar

… en as jy dit kan regkry dan is die lug weer oop bokant jou en kan jy weer kontak maak met God en geestelik groei

Soms doen die Here onmiddellik ʼn volkome wonderwerk – ander kere gaan dit ʼn lang proses wees waar jy negatiewe emosies plus die ander persoon telkens opnuut aan God oorgee

Belangrik: waar die oortreder die wet oortree het in die onreg wat teenoor jou gepleeg is, moet die gereg sy gang gaan

  • Hoe weet ons wanneer ware vergifnis inbeweeg het?

‘n Aantal kenmerke:

  • Hierdie persoon word nie langer meer beheer deur woede en bitterheid nie
  • Aspekte wat meer duidelik sigbaar is: vrede, blydskap, hoop (vrugte van die Gees)
  • Aspekte wat meer op die agtergrond beweeg: neerslagtigheid, wanhoop, geïrriteerdheid, ongeduld, spanning en sinisme
  • ‘n Groter kapasiteit om liefde te kan gee en te kan ontvang
  • ‘n Groter vermoë om dankbaarheid te kan betoon en uitleef
  • Die uiteindelike besef wat iemand soms ervaar dat die negatiewe houvas wat daardie ander persoon miskien vir jare oor jou lewe gehad het, nou gebreek is en dat jy waarlik vry is – jy het van daardie dooie lyk ontslae geraak
  • Die vermoë om te begin bid vir die oortreder
  • Die konkrete werklikheid van ‘n liggaamlike genesing van ‘n kwaal wat oorspronklik deur woede en bitterheid veroorsaak is (vrou wie se keel toegetrek het)

Samevattend

Liewe jongmens, miskien is daar ‘n naam/e wat deur jou gedagtes geflits het terwyl jy vanoggend geluister het?

… iemand wat ‘n ding aan jou gedoen het of gesê het en tot nou toe bitter moeilik vir jou om te vergewe

Jy sleep daardie lyk dalk al vir lank agter jou aan en die tou hou vir jou vas dat jy nie vorentoe kan beweeg saam met die Here nie

Wil jy nie vanoggend daardie persoon vir die Here gee nie?

Vra Hom om jou te help om die wilsbesluit te kan neem om daardie tou te sny

Moet ook nie te gou wees om te sê: nee, daar is niemand wat ek moet vergewe nie

  • Seun van 20: volgende oggend kom hy met 72x name op sy lys

Spr 19:11:’n Verstandige mens beteuel sy humeur en stel sy eer daarin om

vergewensgesind te wees.” = dit is iemand met verstand en wysheid!