KANSA – PRAATJIE OOR KANKER
Verskillende faktore wat die aard van die kommunikasie kan beïnvloed
- Hou in gedagte die verskillende roufases waardeur die persoon gaan
Die punt waar hulle hulself tans bevind gaan uiteraard ʼn effek hê op hul toeganklikheid en ook hul vermoë tot sinvolle gesprekvoering en interaksie:
- Skok en ontkenning
- Woede
- Depressie
- Onderhandeling
- Hartseer
- Aanvaarding
- Sin en betekenis
Indien die persoon bv nog by die eerste of tweede fases is dan al sinvolle gesprekvoering baie moeiliker wees en moet daar meer gebruik gemaak word van non-direktiewe tegnieke soos parafrasering en reflektering – ten volle identifiseer met hul emosies – geen korrigering, geen teregwysing en ook nie probeer om God te verdedig nie.
Die verskillende fases
- Skokfase: oorreaksie vanaf vriende en familie veroorsaak soveel te meer trauma by die pasiënt. Die meer gesonde alternatief is eerder empatiese meelewing – by geleentheid saam te huil
Waak teen oppervlakkige vertroosting met clichés wat eintlik niksseggend is – daar is geen perfekte formulering van sekere woorde en sinne wat skielik die persoon verskriklik beter gaan laat voel nie – wees inteendeel maar net daar vir hierdie persoon.
In gebed kan ons op hierdie punt maar net ons eie skok en verpletterde emosies probeer verwoord en die Here vra om net die storm stil te maak = veel meer effektiewe ontlading van die skok (dieselfde as wat ons sou doen wanneer ons gaan simpatiseer nadat iemand se kind in swembad verdrink het).
- Ontkenning = heel dikwels eintlik maar net ʼn wyse van selfbeskerming teen onhanteerbare emosies. Sommige het hierdie tegniek reeds in die kinderjare geleer toe hulle gesien het dat dit die manier was waarop hul ouers reageer het op skokke en trauma > uiteindelik het dit dan ʼn manier van tydelike ontvlugting geword.
Ontkenning blokkeer egter alle sinvolle kommunikasie en ook heling – hulp en begeleiding is dan soms nodig.
Belangrik om verder seker te maak of daar nie enige blokkasies is wat die normale rouproses kompliseer (bv die reël dat in hierdie huis mag niemand huil nie of niemand mag praat oor emosies nie)
Voorbeeld van ʼn blokkasie:
- Binne disfunksionele gesinne word daar soms ʼn leuen atmosfeer rondom die pasiënt geskep wat uiters toksies is – dit kan soms verband hou met ʼn toksies-godsdienstige benadering wat bv impliseer dat daar gebid is vir hierdie persoon en dat die Here hierdie persoon gesond gaan maak. Daar word gevolglik geen inligting aan vriende of familielede deurgegee rakende die diagnose deur die dokter nie omdat dit as ongeloof beskou word.
Die gevolge van hierdie proses kan vernietigend wees, veral wat betref persone se geloof en hul verhouding tot God agterna > gewoonlik agterna dan ook uitgerekte en gekompliseerde rouprosesse. Soos een persoon aan my gesê het: Satan het ʼn oorwinning behaal – God het sy rug op my gekeer.
Die implikasie is egter dat hierdie gesin slegs met een helfte van die Evangelie bedien was en nie met die ander helfte ook nie. Die een helfte sê: God kan genees; die ander helfte sê: by geleentheid kom God Sy kind haal, en dan moet ons almal gereed wees.
In die geloof stry en veg ons vir heling en genesing tot op die einde en ons gooi nie handdoek in nie (verskeie plekke in die Skrif waar God sy oorspronklike plan verander het: Hosea wat 15jr bykry; die stad Nineve; Abraham wat pleit vir Sodom en Gomorra).
Terselfdertyd berei ons onsself en andere voor vir indien God besluit het dat Hy sy kind kom haal.
- Woede en opstand
Hierdie kan ʼn wyse wees om die skok en trauma en angs en vrees uit te reageer
(veral by ons as mans)
Ek worstel met oorweldigende emosies wat ek nie weet hoe om te hanteer nie.
Hierdie tipe aggressie moet vervolgens nie met aggressie beantwoord word nie – ʼn nie-direktiewe benadering is ook hier veel beter
Gee in hierdie stadium maar net ʼn oor en wees ʼn klankbord, eerder as maklike en oppervlakkige antwoorde.
Hierdie persoon se sterk emosionele reaksies dien dus meestal eintlik maar as ʼn ontladingsmeganisme, ʼn emosionele noodkreet en nie soseer ʼn rasionele stelling nie.
Reflekteer en parafraseer weer eens dit wat jy waarneem en probeer ook weer eens om hierdie emosies in gebed te verbaliseer.
- Die aanvanklike skokfase sou ook as sneller kon dien met betrekking tot talle vorige onverwerkte trauma en verliese.
Moontlik is hierdie die grootste verlies ooit en dit kon alle deksels afgeruk het rakende vroeëre verliese waaroor daar moontlik nie ten volle gerou is nie.
As hy sou voel dat God hom dikwels teleurgestel het of nie sy gebede beantwoord het nie sou enige geestelike tema nou aanvanklik ʼn klomp negatiewe emosies kon sneller
Aanmoediging om emosies te verbaliseer en uiting te gee is belangrik
- Sekondêre trauma rakende gesinslede
Dit moet nie uit die oog verloor word nie – veral ook wat die huweliksmaat betref of die persoon wat die heel naaste aan die pasiënt staan.
Alle fokus is gewoonlik op die pasiënt terwyl die ander persone uit die oog verloor word.
- ʼn Openheid vir gesprekvoering
Met enige groot traumatiese ervaring of verlies is persone gewoonlik baie oop en ontvanklik vir gesprekvoering op ʼn diep vlak waarin daar na die groot prentjie van die individu se persoonlike lewe, dié van die gesin en dié van die huwelik gekyk word – dieselfde tipe situasie na ʼn motorkaping, plaasmoord, ens.
Sinvol om dan binne hierdie konteks te kyk na alle pyn, alle frustrasies, alle hartseer binne verhoudings, alle onafgehandelde besigheid, wrokke en gevoelens van verontregting en ook alle insidente ten opsigte waarvan daar nooit vergifnis gegee was nie of gevra was nie > septiese wonde.
Die jongste trauma het alle vorige onverwerke trauma by elke lid van die gesin gesneller en dit sal hanteer moet word.
- Wat is die familie-verhaal?
Het pa/ma en moontlik ook reeds oupa/ouma met soortgelyke trauma en verliese
geworstel?
Binne die konteks van intergeneratiewe trauma: die pakkie met onverwerkte pyn en trauma word onwillekeurig en onbewustelik aangegee na my kinders
Die skok en pyn van familie-trauma oor ʼn paar geslagte heen sou dus nou alles geaktiveer kan wees op ʼn onderbewustelike vlak.
- Ongesonde reëls in die gesin rakende hantering van emosies
Fiktiewe scenario: Ma is met kanker gediagnoseer en sy en die dogters beleef dit traumaties. Pa het in haglike omstandighede grootgeword waar die enigste oorlewingstegniek was om alle emosies te blokkeer. Sy reël in die huis: niemand mag huil nie want ons is sterk mense – ook geen gesprekke oor emosies word toegelaat nie.
Hierdie is ʼn skaakmat situasie met ʼn magdom bykomende komplikasies. Daar ontwikkel allerlei kleiner krisisse en veral ook verliese soos bv die kinders wat ʼn troeteldier verloor en dan is dit verpletterend > antidepressante – omdat daar nie uiting aan enige emosies gegee mag word nie
In terme van berading met so ʼn gesin as geheel gaan dit gevolglik nodig wees om elkeen se verhaal, en veral verliese, deur te werk en dan te help om gesonde reëls rakende hantering van emosies in plek te kry.
- Pasiënt en gesin groei vinniger as ander
Indien ek as pasiënt en ook diegene naby aan my in ʼn verhouding met JChr staan dan vind daar ʼn geestelike en emosionele groeiproses plaas vandat ek die eerste dag die skok-diagnose ontvang het. Ons is aan die worstel met die Here maar tegelykertyd neem Hy vir ons elke dag tree vir tree verder – dit is inderdaad ʼn louteringsproses.
Uiteraard is ʼn klomp ander vriende en familielede ook geskok, maar almal moet intussen met hul lewens aangaan. Een van hulle sou jou kon skakel ʼn maand later om te hoor hoe dit gaan – die gesprek traumatiseer hulle dan in ʼn sekere sin opnuut (ook onbewustelik) omdat hulle nie dag vir dag hierdie intense worstelstryd maar ook groeiproses saam met jou deurgegaan het nie en ʼn klomp aspekte gekoppel aan jou pyn eenkant moes plaas.
In ʼn sekere sin is daardie persoon dus waar jy ʼn maand gelede was en soms of sommige van hierdie persone jou terugtrek na die punt waar hulle was ʼn maand gelede.
Ek het dieselfde ervaar rondom die helingsproses na die dood van iemand in die gesin – soms asof sommige mense nie wil hê dat jy jou kop moet optel en begin aanbeweeg nie.
Daar is ook diegene wat self traumatiese ervarings rondom ʼn soortgelyke siekte ervaar het en dan nie kan aanvaar dat jou ervaring nie presies net so traumaties verloop het as hulle sʼn nie > hulle wil dan iets van hulle trauma op jou kom aflaai en verhinder jou dan ook om vorentoe te kan beweeg.
- Mense se vrae
Hoe lyk die pad nou vorentoe? Waar is jy oor ʼn maand? Waar is jy oor ses maande? Dit kan verwarrend en afbrekend wees. Hierdie persoon het nie nou antwoorde op hierdie vrae nie aangesien alles totaal in God se hande is.
- Die waarom-vraag
Ons worstel almal met die waarom-vraag na ʼn krisis – hantering en gesprekvoering hieroor tydens die vroeë fases nie sinvol nie
Dit gaan eintlik om ʼn emosionele noodkreet – hier weereens reflekteer en parafraseer en nie probeer teregwys of korrigeer nie.
Namate ʼn persoon self vorder op hierdie pad, kom daar ʼn tyd wanneer dit makliker word om hieroor te begin praat – heel dikwels maak hy/sy self vir jou die deur oop.