Pastorale begeleiding van die self-mutileerder

Pastorale begeleiding van die self-mutileerder

 

IN DIE SKRIFLIG 46(2) 2012

 

Opsomming
In hierdie artikel blyk dit dat die toenemende voorkoms van self-mutilering onder jongmense in talle gevalle dien as uitlaatklep vir opgeboude druk en nie soseer as ‘n selfmoordpoging nie. Heel dikwels is dit ‘n uitvloeisel van mishandeling en/of seksuele misbruik en die persoon gebruik dan hierdie metode om van innerlike pyn ontslae te raak. Gevoelens van alleenheid, ‘n behoefte aan beheer, ‘n behoefte om net íéts te voel asook ‘n behoefte om die self te straf, kan ook ‘n rol speel. Die gesinsklimaat is oor die algemeen van besondere belang. Hierdie probleem bied aan pastorale beraders en aan die kerk ‘ n besondere uitdaging deur onder meer veel meer op die probleem van pyn asook die hantering daarvan te fokus. Dit hou verband met die feit dat ontkenning in die verlede ‘n groot rol gespeel het in sekere kerklike kringe en ook binne sekere gesinne. As deel van ‘n pastoraal-terapeutiese strategie in die begeleiding van die self-mutileerder kan aspekte soos die identifisering van die rol van  leuens, die benutting van oplossings uit die verlede, vergifnis, Nagmaal, gebed en meditasie gevolglik uiters belangrike komponente van die helingsproses vorm. Pastorale beraders sal hulself ten volle op die hoogte moet bring van die verskynsel van self-mutilering ten einde in staat te wees om werklik te kan help.

  

Abstract: Pastoral guidance for the self-mutilator
In this article it seems that the increase in the occurrence of self-mutilation among young people in many cases serves as a pressure relief valve and not a suicide attempt as such.  It is very often the outcome of ill-treatment and/or sexual abuse and the person uses this method to get rid of the inner pain. Feelings of alone-ness, a need to be in control, a need to feel at least something, and a need to punish the self could also play a role. The family climate is generally very important. This provides a special challenge for pastoral counsellors as well as the church by among others focussing more on the problem of pain and how to handle it. This is relevant to the fact that denial has played a significant role in certain church circles as well as within some families. As part of the pastoral-therapeutic strategy in helping the self-mutilator, aspects such as identifying the role of lies, the use of solutions from the past, forgiveness, the Lord’s Supper, prayer, and meditation are therefore very important components in the healing process. Pastoral counsellors will have to be well-informed about the phenomenon of self-mutilation in order to be able to be of real help.  

 

1.     Fokus en metodologiese vertrekpunt

In hierdie artikel word die volgende probleemstelling ondersoek: In watter mate kan pastorale begeleiding ’n terapeutiese rol vervul aan persone wat vasgevang is in self-mutilering? In dié verband word daar gefokus op die aktualiteit, omvang, asook redes waarom jongmense hulself mutileer. Tekens wat op ’n probleem sou kon dui, riglyne vir ’n moontlike behandelingsprogram,asook ’n aantal pastorale perspektiewe word ook aan die orde gestel. Betreffende metodologie is die vertrekpunt vanuit ’n psigologies-georiënteerde pastorale benadering. Al meer jongmense raak by hierdie probleem betrokke (soos wat deur statistieke in die volgende paragraaf aangedui sal word) en dit raak uiteraard ook kerklike lidmate. Die psigiater Frank Minirth (1994:22) toon aan dat 42% van diegene wat hulp soek eerstens na hul leraar sal gaan. Daarom is dit belangrik vir die die pastoraat om toegerus en op hoogte te wees van ’n probleem soos self-mutilering. Dit is egter ook belangrik dat pastorale beraders begrip sal hê vir die breëre psigologiese raamwerk waarbinne die problematiek van self-mutilering soms ingebed is – daarom dan die vertrekpunt van ’n psigologies-georiënteerde pastorale benadering.

 

2.     Aktualiteit en statistieke

Die tema van self-mutilering (self-sny) as verslawende gedrag het gedurende die afgelope dekade in al groter mate die onderwerp van ernstige studie en navorsing geword en uiteindelik ‘n gevestigde tema geraak binne die literatuur (Aizenman & Jensen, 2007:27; Penner, 2008:97; Gratz & Roemer, 2008:14).
Hierdie tipe gedrag gaan in teen die mens se diepste instink vir self-oorlewing en die vermyding van pyn. Horning (2010:107) beskryf die verhaal van ‘n 22-jarige student, Hester, wat as kind gemolesteer is, en vir wie die trek van ‘n lemmetjie oor haar arms en lieste totdat dit bloei, die gevoel van ware lewe geïmpliseer het:

 

“I began at 14, to take away my numbness – I know it must sound nuts but I think I’d anaesthetized myself against life, and feeling something was better than feeling nothing.”

 

Volgens Penner (2008:9), ‘n veteraan-jeugwerker wat reeds 30 jaar in sy privaatpraktyk intens betrokke is by die begeleiding van emosioneel verwonde jongmense en hul gesinne, het meeste volwassenes geen idee hoe ernstig die probleem van self-sny geword het binne die huidige generasie nie. Clark en Henslin (2007:10, 23) maak selfs die stelling dat die oorgrote meerderheid van professionele persone binne die veld van geestesgesondheid nie ten volle begrip het vir die kompleksiteit van die verskynsel van self-mutilering nie. Wat hierdie probleem verder kompliseer, gesien vanuit ‘n diagnostiese oogpunt, is dat, afgesien van die omvang van die probleem, self-mutilasie bloot beskryf word as ‘n simptoom wat verband hou met stres of grenspersoonlikhede, en nie ‘n spesifieke siekte nie. Terminologie wat hiermee verband hou, ontbreek ook grootliks in mediese woordeboeke (Hicks & Hinck, 2008:409). 
Die boek, Cutting: Understanding and overcoming self-mutilation, deur Steven Levenkron wat in 1999 verskyn het, was een van die eerste boeke wat spesifiek gefokus het op die probleem van self-mutilering. Levenkron was in daardie stadium oortuig dat daar in die algemeen kennis geneem moet word van ’n verskynsel wat besig was om deel te word van die Noord-Amerikaanse jeugkultuur. Levenkron se boek word steeds as ’n standaard teks beskou betreffende insig in die probleem van self-mutilasie (Penner, 2008:18). In die inleiding tot sy boek het Levenkron bereken dat self-mutilasie ’n probleem is vir ongeveer een uit elke 250 tienermeisies in die Verenigde State van Amerika (’n bietjie meer as ’n halfpersent). Hy beweer verder dat self-mutilasie in daardie stadium nie ’n probleem was vir seuns nie.
In 2006 is belangrike bevindinge egter gepubliseer deur die universiteite van Princeton en Cornell betreffende ’n omvangryke studie wat gedoen is onder hul studente (Whitlock, 2010). Hierdie studie, waarin meer as 3000 studente betrek is, het aangedui dat ongeveer 17% (een uit vyf meisies, en een uit sewe mans) self-mutilasie toegepas het op die een of ander stadium in die verlede. Hierdie resultate verteenwoordig ’n toename van epidemiese omvang vergeleke met Levenkron se syfers agt jaar tevore. Die respondente het meestal ook aangedui dat die gebeure in die geheim plaasgevind het. Gevolglik kan die afleiding gemaak word dat hierdie statistieke slegs die seekoei se oortjies is (Penner, 2008:18; Whitlock, 2010).
Volgens Whitlock (2010) het 12 tot 24% van jongmense in die ouderdomsgroep van 14 tot 25 self-mutilasie beoefen. Volgens Gratz en Roemer (2008:14) is die persentasie onder hoërskoolkinders 14 tot 21% en onder studente styg dit na 17 tot 41%. Sim, Adrian, Zeman, Cassano en Friedrich (2009:76) dui aan dat meer as 60% van adolessente wat in psigiatriese eenhede gehospitaliseer is, betrokke was by opsetlike self-mutilering.

 

3.     Definiëring en terminologie

Verskillende terme word gebruik in die beskrywing van self-destruktiewe gedrag: self-gerigte geweld, self-misbruik, self-benadeling, self-toegediende geweld, self-besering, self-sny, self-mutilasie, simboliese verwonding, self-aanval, outo-aggressie, deliberate self-harm syndrome en self-injurious behavior syndrome (Pattison & Kahan, 1983:867; Clark & Henslin, 2007:21; Penner, 2008:31; Ryan et al., 2008:238). Opsommend gestel, is self-mutilasie ‘n poging om jou emosionele toestand te verander deur aan jou eie liggaam fisiese skade te berokken sonder die bedoeling om selfmoord te pleeg. Self-snyers probeer dus om hul gevoelens te verander deur hulself seer te maak met oogmerke wat nie sosiaal erken en gesanksioneer word nie (Aizenman & Jensen, 2007:29; Penner, 2008:32; Lax, 2010:5; Whitlock, 2010). Hulle poog om op hierdie wyse psigologiese stres te laat afplat (Shamos, 2007:255). Holm en Severinsson (2010:52) beskryf hierdie aksie as ‘n poging om ‘n toestand van depersonalisasie te beëindig. Scholtz en Fiedeldey (1994:138) gebruik die volgende definisie as basiese vertrekpunt:

 

“Self-mutilation is a direct, physically damaging form of self-harm generally of low lethality, often repetitive in nature, and commonly employing multiple methods.”

 

Hicks en Hinck (2008:409) plaas belangrike klem met die volgende definisie:

“Self-mutilation is defined as the intentional act of tissue destruction with the purpose of shifting overwhelming emotional pain to a more acceptable physical pain.”

 

Van die mees algemene vorme van self-mutilasie is sny, brand, die uittrek van hare, jouself te slaan of jouself met iets te slaan, jouself te krap, die breek van eie bene, of die opsetlike toedien van ‘n oordosis van enigiets wat skadelik is vir die liggaam (Harmless, 2010b; Whitlock, 2010).

 

4. Moontlike oorsake vir self-mutilasie

Daar is nie ‘n simplistiese antwoord op die vraag na waarom jongmense hulself mutileer nie. Die motivering daaragter is nie altyd klinkklaar nie – meestal is dit ‘n verskeidenheid aspekte. Die mees algemene redes is oorweldigende emosies, depressie, angs, pyn en ontnugtering (Kern, 2007:33). Die volgende  verskeidenheid van moontlikhede sou egter deurgaans in gedagte gehou kan word.

 

4.1 ‘n Uitlaatklep vir opgeboude druk (pressure relief valve)

Self-mutileerders beskryf die proses van self-mutilering op verskillende wyses, maar ten diepste gaan dit om ‘n uitlaatklep vir opgeboude innerlike emosionele spanning.

 

“I do it because I can't get mad at people, at least on the surface. Anytime someone acts mean to me or anything, I just get sad. But it all wells up ... and then all of a sudden I just sorta snap. Then I run upstairs as fast as I can and cut until everything goes away” (Penner, 2008:78).

 

Self-toegediende pyn is dus vir talle ‘n kragtige, effektiewe, verslawende en onmiddellike manier om spanning te verlig. Fisiese pyn, die visuele stimulasie van bloed (of byvoorbeeld brandwonde) en die gepaardgaande gevoelens van verligting dien as afleiding vanaf emosies en omstandighede wat hulle nie kan of wil konfronteer nie (Clark & Henslin, 2007:46; Swannell, Martin, Scott, Gibbons, & Gifford, 2008: 102).

 

“They temporarily inflict physical pain to take away other emotional pain” (Gregston, 2006:43).

 

4.2  Die uitvloeisel van mishandeling en/of seksuele misbruik

Hicks en Hinck (2008:410) toon vanuit hul navorsing aan dat die enkele mees algemene eienskap van self-mutileerders ‘n geskiedenis van seksuele misbruik tydens die kinderjare is (vgl. ook Aizenman & Jensen, 2007:29).  Penner (2008:95) sowel as Whitlock (2010:5) bevestig hierdie sterk korrelasie, maar waarsku egter teen die foutiewe aanname dat elke self-mutileerder noodwendig seksueel misbruik is.

 

4.3 Die persoon het ‘n behoefte aan ‘n metode om van pyn ontslae te raak

Sommige persone gee uiting aan innerlike pyn deur trane of aggressie of deur hul toevlug te neem tot die een of ander substans. Ander gee egter uiting deur hulself te sny en te verwond.

 

“There are times when I just hurt too bad – too deep for tears – so I cut and it lets out some of the hurt. It’s like when you see the blood flowing out, the pain and fear are flowing out with it... I need to see the bad feelings bleed away... I couldn’t cry, and bleeding was a different form of crying” (Clark & Henslin, 2007:47).

 

4.4 Gevoelens van alleenheid

Self-mutilering word soms ingespan om gevoelens van alleenheid te hanteer. Dit kan wees nadat ouers deur ‘n egskeiding is, nadat die persoon self deur ‘n egskeiding is, nadat iemand aan die dood afgestaan is, of verwerping deur ‘n portuurgroep (Kern, 2007:33; Clark & Henslin, 2007:51; Harmless, 2010a).

 

4.5  ‘n Behoefte aan beheer en kontrole

Vir adolessente wat die wêreld moontlik as chaoties en vyandig mag beleef, kan self-mutilering ‘n wyse wees om outonomie te vestig. Hulle raak gevolglik hierby betrokke in ‘n poging om onbeheerbare omstandighede te probeer beheer (Kern, 2007:34; Hicks & Hinck, 2008:411; Whitlock, 2010).

 

“I felt totally calm and rational when I did it, like I was finally in control of my life. And the whole experience was such a relief” (Freeman, 2003).

 

4.6 Daar is ‘n behoefte om net iets te voel

Sommige sê hulle sny hulself ten einde te voel dat hulle nog lewe en dat alles ‘n werklikheid is. Om pyn te ervaar, is dan ook soms beter as om niks te ervaar nie – hierdeur vind daar as’t ware weer ‘n konneksie met die realiteit plaas (Swannell et al., 2008:102).

 

4.7  ‘n Manier om hulself te straf

Persone is van mening dat hulle nooit vergewe sal kan word vir persoonlike mislukkings in die verlede nie en dat hulle hulself gevolglik daarvoor moet straf (Gregston, 2006:39; Kern, 2007:34).

 

4.8 Die rol van die gesinsklimaat

4.8.1 Verbrokkeling van gesinsbande

Adolessente ly emosionele skade as gevolg van ‘n gebrek aan intieme tyd saam met hul ouers. Vanweë finansiële redes word beide ouers in talle gesinne verplig om te werk. Mense raak ook al meer geïsoleer van hul uitgebreide families. Die groter aantal enkelouers asook stygende egskeidingsyfers dra ook by tot ‘n terminering van gesinsverbintenisse (Selekman, 2002:7; Sim et al., 2009:86).

 

4.8.2 Te min tyd vir kinders

Selekman (2002:7) wys op die resultate van ‘n studie betreffende adolessente wat aantoon dat die betrokke groep se moeders gemiddeld agt minute per dag betrokke was in gesprekvoering met hul tieners, en die pa’s gemiddeld drie minute. Verder blyk dat ouers tans 40% minder tyd deurbring saam met hul kinders as 30 jaar gelede.

 

4.8.3 Kontrole en manipulering

Pogings deur ouers om deur kontrole en manipulasie ‘n probleem-tiener te beheer, intensifiseer gewoonlik die kompleksiteit van die probleem (YIP, 2006:139).

 

4.8.4  Negatiewe invloede van ‘n outoritêre pa

Selekman (2002:48) wys op die negatiewe invloed van ‘n outoritêre pa in sommige self-mutileerders se huise. Wanneer dit kom by enige besluitneming, is dit die pa wat alleenseggenskap het. In sommige gevalle sal aggressie of ander vorme van intimidasie gebruik word om veral die vroulike stemme in die gesin stil te maak (vgl. ook YIP, 2006:142; Sim et al., 2009:86).

 

4.8.5  Kommunikasieprobleme in ouerhuis

Kern (2007:34) maak die stelling dat ‘n groot aantal jongmense wat hulself sny ten einde beheer oor emosies te verkry, kommunikasieprobleme tuis ervaar. Die gebruik van ouerlike swye (parental silence) kan dan ook baie doeltreffend wees om die stem te doof van ‘n adolessente meisie wat behoefte het aan erkenning, bevestiging (validation) en meer outonomie (Selekman, 2002:18). In dié verband maak Clark en Henslin (2007:51) die stelling dat talle jong vroue vandag hul liggame as kennisgewingborde beskou. Die manier waarop hulle aantrek, hulself grimeer en/of hul liggame modifiseer, dra dikwels ‘n boodskap oor waarin dit om veel meer as net smaak of artistieke voorkeur gaan. “Self-inflicted violence makes audible their silent shrieks within.” (Whitlock, 2010: Selekman, 2010). Welsh (2004), wat vir 30 jaar onderrig gegee het aan ‘n hoërskool, vertel van ‘n gesprek met twintig hoërskoolseuns en -meisies wat almal betrokke was by self-mutilering. Uit die gesprek het geblyk dat in die meeste gevalle die verhoudings tuis met hul ouers haglik was en dat dit grooliks bygedra het tot emosionele laagtepunte, wat dan weer self-mutilasie tot gevolg gehad het.

 

4.8.6 Die rol van geïnternaliseerde leuens

Kern (2007:48) vertel die verhaal van Jackie, ‘n self-mutileerder. Een van die bydraende faktore hiertoe was ‘n verkragting vroeër in haar lewe waarna ‘n polisieman haar nie wou glo nie. Haar pa het haar boonop geroskam oor die tipe rok wat sy aangehad het en geen empatie getoon nie. Sy het dit beleef dat die hele situasie en almal betrokke die boodskap uitgeskreeu het:

 

“You deserve to be treated this way. Bad things happen to bad people.You’re not worth anything”

 

Sy het gevolglik probeer om hierdie boodskap stil te maak deur dwelms, seks, alkohol, self-mutilering en self-isolasie. Die leuen dat sy nie goed genoeg is nie, het gaandeweg diep ingeëts geraak in haar psige. Sodanige geïnternaliseerde leuens word verder versterk deur die aanwesigheid van die dinamiek van familiegeheime wat, volgens Selekman (2002:20), heel dikwels figureer binne gesinne van self-mutileerders. Die self-mutileerder kan byvoorbeeld met die geheim worstel van molestering deur ‘n gesinslid, of per toeval afkom op bedrog wat een gesinslid pleeg teenoor ‘n ander een. Met verloop van tyd eis die geheimhouding sy tol in terme van depressiewe
gevoelens en angs, wat weer die moontlikheid van self-mutilering verhoog (Kern, 2007:49).
Hierdie tipe situasie hou heel dikwels ook verband met ’n milieu waar emosionele eerlikheid nie geduld word nie. Gaandeweg gee dit dan aanleiding tot negatiewe gevoelens wat onder die oppervlak ‘septies’ raak en in so ’n mate intensifiseer dat dit uiteindelik op die een of ander wyse geventileer móét word.

 

“In our household we have to be brave. Crying is not allowed. My father has a very short temper and if you make noise that will annoy him like crying, he gets mad. I’m not incapable of crying, I just can’t. For my sake it’s best that I don’t. I do it (cutting) to stop thinking so that I have something else to occupy my mind in times of pain. I cry through the blood; my body cries for me” (Penner, 2008:22).

 

4.8.6.1 Emosionele bloedskande

Die frase ‘emosionele bloedskande’ word onder meer gebruik deur Hemfelt, Minirth en Meier (2003:56). Selekman (2002:8) gebruik in dié verband die term parentification. Hierdie proses sou plaasvind wanneer ouers misluk in die vervulling van ouerlike rolle as gevolg van siekte, probleme rondom substans misbruik of verhoudings wat skipbreuk gely het. In sommige gevalle sal ‘n kind (the parentified child) dan die rol begin vervul van ‘n tipe surrogaat-ouer, dien as terapeut vir ‘n enkelouer of ingetrek word as skeidsregter of fasiliteerder in die ouers se huwelik. Die grootste tragedie van so ‘n proses is die prysgawe van so ‘n jongmens se kinderjare.

 

4.9 Uiting aan onverwerkte trauma

In haar boek, A bright red scream: self-mutilation and the language of pain, verwys Strong (1998) na intensiewe onderhoude met 50 persone wat self-mutilering toepas, waarin hulle hul verhale vertel. Sy verweef hierdie verhale met opsommings van relevante navorsing asook kommentaar deur kliniese outoriteite. ‘n Dominante tema dwarsdeur hierdie beskrywing is dat self-mutilering ‘n stem gee aan ongemetaboliseerde kinderjare-trauma. YIP (2006:134) verwys ook binne dieselfde verband na die rol van interpersoonlike konflik asook ongelukkige kinderjare en trauma.
Swenson (1999:1234) wys egter op die resultate van sekere navorsing wat aantoon dat in 50% van gevalle van self-mutilering daar nie noodwendig ‘n trauma-geskiedenis was nie. In berading sal dié aspek dus ook in gedagte gehou moet word.
Clark en Henslin (2007:108) haal navorsing aan van dr. Bessel van der Kolk, ‘n outoriteit op die gebied van post-traumatiese stres, wat daarop dui dat ‘n ooraktiewe amigdala en ‘n onderaktiewe hippo-kampus in die brein verhoed dat traumatiese gebeure analities en beheers geprosesseer word. In plaas dan daarvan om onaangename omstandighede as pyn van die verlede te beskou, herbeleef sommige slagoffers van trauma die gebeure telkens asof dit steeds voortgaan en steeds ‘n gevaar is. Hierdie patroon word dan ook dikwels waargeneem by self-mutileerders. As gevolg van gebeure in die verlede is stresvlakke voortdurend tot die maksimum verhoog. Om uit hierdie situasie te probeer wegbreek, word daar dan gebruik gemaak van gemoedsveranderende substanse (soos alkohol, pille of kos) of gemoedsveranderende gedrag (soos promiskue seks of self-mutilasie) ten einde alle gevoelens in hul denke en liggame uit te blokkeer.

 

4.10 Pynvolle interpersoonlike verhoudinge

Holm en Severinsson (2008:33) haal verskillende studies aan waarin verskillende aspekte rakende interpersoonlike verhoudinge beklem-toon word wat uiteindelik bydraende faktore is tot self-mutilering. By verskeie van die self-snyers was daar situasies wat aanleiding gegee het tot gevoelens van verwerping en emosionele stres.

 

5. Moontlike simptome wat aanduidend van self-mutilering is

Die volgende lys van gedragswyses, simptome of tekens sou kon dui op ‘n moontlike probleem betreffende self-mutilering (Pattison & Kahan, 1983:867; Gregston, 2006:63; Clark & Henslin, 2007:119; Penner, 2008:49; Seligman, 2010:51; Whitlock, 2010):

  • Onverklaarbare littekens, snye, krapmerke of brandmerke

Die mees algemene plekke op die liggaam waar self-mutilering toegepas word, is op die arms of bobene.

  • Hulle dra langmouhemde of langbroeke selfs wanneer die weer of die geleentheid iets gemakliker sou vereis

Hul hoogste prioriteit is om hul geheim te bedek, ondanks eie gemak.

  • ‘n Verskeidenheid van armbande

Armbande kan by geleentheid bloot ter versiering wees - self-mutileerders sou egter ‘n verskeidenheid van armbande kon dra ten einde die snymerke en letsels op hul arms te verberg.

  • Gebreekte wegdoenbare lemmetjies

Waarskynlik die maklikste bekombare skerp voorwerp in meeste huise is die wegdoenbare lemmetjies wat in skeermesse gebruik word.

  • ‘n Versameling van skerp voorwerpe

 

“Carrying a prized knife at all times gives the self-injurer a sense of control – if something should go emotionally wrong, he or she has the option of taking care of it immediately” (Penner, 2008:51).

 

  • Bebloede watte, sneesdoekies of toiletpapier, of bloed op handdoeke, waslappe, ens.

Indien hierdie verskynsel geneig is om ‘n gereëlde patroon te word, kan dit ‘n rooilig wees. Gee veral aandag aan bloedmerke wat in die vorm van ‘n lyn is.

  • Eerstehulp voorraad of antiseptiese salwe langs die bed of in die badkamer
  • Arms en veral gewrigte wat gekrap en gevryf word

Snye is gewoonlik jeukerig wanneer dit genees. ‘n Kombinasie van lang moue en konstante vryf en krap van die arms sou kon dui op self-mutilering.

  • Die emosionele ‘roller coaster’

As gevolg van die intense emosies wat dikwels die dryfkrag is agter self-mutilerende gedrag asook die intense en onmiddellike verligting wat gepaard gaan met ‘n sny-episode, is dit nie ongewoon om ekstreme emosionele siklusse by self-mutileerders waar te neem nie.

  •  ‘n Onwilligheid om deel te neem aan sekere aktiwiteite

Hier sal dit tipies gaan om aktiwiteite waar die liggaam in mindere mate bedek is, soos swem, of oefen in ‘n gimnasium.

  • Dwelm- en alkoholmisbruik

Dit blyk algemene saamlopers te wees van opsetlike self-benadeling.

  • Ongereelde slaapgewoontes.
  • Donker gedagtes en kommentaar.
  • Persone wat hulself terugtrek en isoleer van ander.
  • ‘n Houding van futiliteit wat in hul gesprekke te bespeur is.
  • Gebrek aan eetlus.
  • Gebrek aan lewenslus.
  • ‘n Algemene gebrekkige respons van hulle kant af.
  • Intense weerstand teen ‘n roetinebesoek aan ‘n huisdokter of om vir mediese hulp te gaan.
  • In die persoon se vriendekring is daar persone wat self-mutilering toepas.
  • Die taalgebruik van die persoon dui voortdurend op ‘n lae eiewaarde asook die behoefte om gestraf te word.
  • Die gesin/familie het ‘n geskiedenis van geestesproblematiek.

 

6. Belangrike pastorale riglyne vir die begeleidingsproses van die self-mutileerder  

Kern (2007:35) wys op die feit dat daar nie altyd in die kerk genoeg oor pyn gepraat is nie en dat dit weer aanleiding gegee het tot ‘n mate van ontkenning betreffende eie wroeging en worsteling. Penner (2008:10) maak in dié verband die volgende krities belangrike uitspraak betreffende die verskynsel van self-mutilering onder kerklike jongmense:

 

“But our finding ways to share that hope and healing with hurting teenagers has to begin by recognizing that this brokenness exists in our midst. There may very well be kinds in our congregations – kids of fine-looking families – who are choosing to deal with their pain in self-destructive ways.”

 

Dit is dus belangrik dat die pastoraat ook op die probleem van self-mutilering sal fokus, en vervolgens ’n aantal praktiese riglyne in die verband. Die keuse van hierdie riglyne vind op ’n eklektiese wyse plaas (Meier, Minirth, Wichern & Ratcliff, 2000:29) aangesien dit elemente verteenwoordig vanuit die narratiewe benadering, die kognitiewe benadering asook die sisteemteorie.

 

6.1 Ontrafel knope in die gesin

Selekman (2010:135) verwys na tipiese dilemmas binne die gesin van ’n self-snyer as ‘knope’ in so ’n gesinstruktuur – die uitdaging aan die berader is om hierdie knope te ontrafel. In die verband gee hy die volgende twee belangrike riglyne:

 

6.1.1 Help die gesin om deur ontkenning te breek

Aangesien talle self-mutilerende jongmense hul brand- en snymerke verberg vir ouers en ander volwassenes deur die dra van langmouhemde en langbroeke en ook relatief goed funksioneer in meeste areas van hul lewens, sou ouers onder die indruk kon wees dat daar nie noodwendig ’n probleem is nie. In teenwoordigheid van die kind moet die ouers gevolglik met die konkrete feite gekonfronteer word.

 

6.1.2 Belangrike terapeutiese take om te verrig

Selekman (2010:19) wys ook op die volgende belangrike terapeutiese take om te verrig betreffende die gesin van ‘n self-mutilerende adolessent:

·        Konfronteer alle aftakelende gesinsinteraksies gekoppel aan tradisionele patriargale sosialiseringspraktyke (Pa het die finale sê en duld geen ander opinies nie).

·        Skep ‘n veilige terapeutiese klimaat waarin toestemming verleen word aan die self-mutilerende adolessent om hul woede of enige ander onaangename gedagtes of negatiewe emosies wat hulle sou ervaar in spesifieke gesinsverhoudinge of enige ander sosiale konteks te mag eksternaliseer – “replacing impulsive action with ‘words’ is one of the main keys to successful treatment with self-harming adolescents” (Selekman, 2010:19).

Sim et al. (2009:88) voeg in die verband ook die volgende by:

 

“It is likely that teaching parents ways of communicating, understanding and guiding children’s emotional behavior would promote healthy emotional and psychological development.”

 

6.2 Eksploreer oplossings en raad vanuit die verlede

Dit is belangrik om saam met die adolessent alle vorige suksesse te evalueer – evalueer situasies waar hulle dit reggekry het om wel hul gemoedstemming te beheer en stresvolle situasies te oorkom. Identifiseer dan beginsels wat  toegepas kan word op die huidige situasie (Selekman, 2010:22).

 

6.3 Die belangrikheid van neutrale nie-bedreigende gesprekke

Clark en Henslin (2007:124) gee die volgende praktiese raad:

 

“Wisdom resists over-interpretation. You can best honor those you love by observing the signs, praying diligently, opening the door for others to share their struggles, and confronting behaviors when needed.”

 

Indien dit sou blyk dat iemand self-mutilering toepas of weer daarin verval het, is die beste raad om betrokke te raak deur middel van neutrale nie-bedreigende gesprekke. Indien daar ‘n noue emosionele band met die betrokke person is, gaan dit uiteraard moeilik wees, maar eise en woedende reaksies gaan nie die gewenste reaksie ontlok van ’n self-mutileerder wat emosioneel verwond is nie. Lax (2010:5) verwoord dieselfde beginsel soos volg:

 

“Telling someone to stop self-harming is likely to make the situation worse, as a person cannot even begin to think about stopping until they have other ways to deal with their feelings.”


Hierdie tipe gesprekke vereis ’n sagtheid (gentleness) en baie geduld. Op hierdie wyse kan die berader deel word van ’n gesonde en langtermyn-herstelproses.
Binne dieselfde verband maak Gregston (2006:20) die volgende belangrike
stelling:

 

“The source of the problem becomes the main issue. The main issue, which is not the cutting, must remain the main issue. And parents have got to quit thinking that the band-aid of ‘just stop doing that’ is going to ‘fix’ anything.”

 

6.4 Onttrekkingsimptome

Wanneer gewoonte self-mutileerders op hul eie sou probeer om die proses te termineer, sou hulle onttrekkingsimptome kon ervaar soortgelyk aan die ervaring van ‘n rehabiliterende dwelmverslaafde. Die aksie van sny of brand het telkens daartoe gelei dat ’n pynstillende chemiese bestanddeel afgeskei is waaraan die persoon uiteindelik verslaaf geraak het. Die gevolg hiervan kan onder meer wees aggressiewe en hiperaktiewe gedrag, asook oormatige angs wat kan dreig om hulle emosioneel te oorweldig. Talle gee uiteindelik weer toe aan hierdie emosies en dit kan lei tot ’n selfs meer aggressiewe siklus van self-benadelende gedrag (Clark & Henslin, 2007:100; Penner, 2008:93).

 

6.5 Die belangrikheid van elkeen se verhaal

Volgens Selekman (2002:18) is daar drie sterk kragte wat bydra tot die ontwikkeling en handhawing van aftakelende gesinsinteraksies, asook tot die stilmaak van veral van meisies wat self-mutilering toepas: a) die verkeerde hantering van woede; b) sterk patriargale en kulturele voorskrifte betreffende die wyse waarop ’n vrou behoort te dink en op te tree; en c) gesinsgeheime. Teen hierdie agtergrond is dit van kritiese belang dat beraders daarop sal fokus om die self-mutileerders se ‘stem’ hoorbaar te maak in sessies met die gesin (Scholtz & Fiedeldey, 1994:143).

 

“When an individual is feeling a strong sense of hopelessness, a lack of power, and relatively little control in his or her family, cutting, burning, substance abuse and eating disorders can give the person a false sense of being in control” (Selekman, 2002:18).

 

6.5.1 Werk die verlede deur

Clark en Henslin (2007:74) haal navorsing aan wat daarop dui dat ongeveer 50% van self-mutileerders rapporteer dat hulle misbruik is as kind, hetsy fisies en/of seksueel (YIP, 2006:143). Wat persentasies betref, gaan Holm en Severinsson (2008:32) selfs nog verder met die volgende stelling:

 

“Up to 80% of individuals experience emotional pain that is an adaptive response to repetitive traumatic experiences in childhood.”

 

Herhaaldelike misbruik, veral deur diegene wat vertrou word, impliseer emosionele vernietiging van die hoogste orde. Clark en Henslin beskryf dit as ‘sielsmoord’. Dit is dus uiters belangrik dat die pyn van die verlede tydens die terapeutiese proses aan die orde kom.

 

6.5.2 Identifisering van enige onverwerkte seksuele trauma

’n Belangrike komponent van die eksplorering van die verlede is om veral enige onverwerkte seksuele trauma te identifiseer (YIP, 2006:141).

 

6.5.3 Vra uit na hoe alles begin het

Vra die persoon wat self-mutilering toepas, om te vertel hoe alles begin het. Vra in watter mate hierdie hele aangeleentheid soms emosioneel oorweldigend is en ook watter gedagtes en gevoelens betrokke was by die eerste daad, en ook telkens daarna. Daar kan spesifiek gevra word of daar ’n sekere tyd van die dag of spesifieke situasies is wat gevoelens aktiveer om self-mutilering toe te pas en ook of daar bepaalde persone is wat hierdie emosies telkens sneller.
Hou ook deurgaans in gedagte dat dit aanvanklik angswekkend mag wees vir iemand wat vir ’n tyd lank hierdie praktyk beoefen het om te dink dat daar  voortaan sonder hierdie moontlikheid voortgegaan sal moet word (Kern, 2007:89).

 

6.6 Vervang leuens met waarheid

Die self-mutileerder is dikwels verward as gevolg van negatiewe veronderstellings en leuens (Kern, 2007:67; Penner, 2008:60). In die lig hiervan interpreteer die ontwikkelende denke van die adolessent hul persoonlike geskiedenis en kom tot gevolgtrekkings met betrekking tot hul persoonlike identiteit. Omdat liefdevolle en objektiewe volwassenes dikwels ook ontbreek in die lewe van talle adolessente, word sulke negatiewe veronderstellings selde bevraagteken. Die gevolg is dat sulke jongmense krampagtig kan vasklou aan sulke veronderstellings aangesien dit ’n verklaring bied met betrekking tot gebeure van die verlede. Luister na Mandy se pynvolle verduideliking van hierdie soort ervaring:

 

“Life works for me as long as I view myself as a worthless piece of crap. I am useless, I am nothing. I am unlovable, and that's why my mom drank when I was little. I am a whore so I was sexually abused when I was seven. I am a slut which is why I was raped when I was 13” (Penner, 2008:60).

 

Binne die denke van ’n tiener is skaamte (shame) gelykstaande aan foutief en disfunksioneel. Skuldgevoelens het gewoonlik te doen met dit wat die persoon gedoen het, terwyl skaamte verband hou met wie die persoon is. Die wanhoop wat voortspruit uit die oortuiging dat daar niemand is wat omgee nie, versterk soveel te meer die greep van self-mutilerende gedrag (Bradshaw, 2005:144).
Solank die negatiwiteit rondom selfbeeld in plek is, vervul dit slegs een funksie, naamlik om te kompenseer vir die tekortkominge deur maskers en kamoeflering – soos wat die geval is met jongmense wat hul eie liggame mutileer. Die gevoelens van selfveragting word na binne gekeer en die emosies word geventileer deur middel van self-toegediende wonde.

 

6.6.1 Konfronteer die leuens

Omdat hierdie leuens heel dikwels gegenereer is binne teleurstellende verhoudings, is dit nodig dat hulle gekonfronteer en uitgedaag word deur liefdevolle, konsekwente en toegewyde verhoudings. Die mees effektiewe wyse waarop daar reageer kan word teenoor jongmense wat sulke verdraaide veronderstellings omtrent hul eie identiteit het, is om hulle te help om die waarheid van hul identiteit in Christus te ontdek en te omhels (McDonald, 1995:209; Thurman, 1999:77; Kruger, 2010:158).

 

6.6.2 Vernuwing van denke

Vernuwing van denke impliseer vir jongmense wat hulself mutileer, dat hulle leer om te glo wat God van hulle sê eerder as die gevolgtrekkings wat hulle van hulself gemaak het (vgl. Rom 12:2). Dit gaan onwillekeurig dan ook daartoe lei dat hulle die verdraaide interpretasies en leuens eenkant skuif – dit wat klaarblyklik sin gemaak het te midde van verwarrende gebeure en pynvolle omstandighede.
Dit alles gaan ’n geweldige risiko inhou, aangesien die prysgawe van die ou veronderstellings daadwerklik die prysgawe van kontrole en beheer gaan impliseer. Kontrole en beheer is een van die sentrale temas betreffende die motivering agter self-mutilerende gedrag. Om pyn te beheer; om andere se sieninge te beheer; om verhoudings te beheer; om die toekoms te beheer en om die eie liggaam te beheer (Kern, 2007:129).

 

6.6.3 Hantering van onbevraagtekende veronderstellings en leuens

Penner (2008:114) bespreek die volgende voorbeelde van tipiese leuens wat oor die algemeen aanvaar word as die waarheid deur die emosioneel verwonde persoon, aangesien dit by geen geleentheid in die verlede bevraagteken is nie.

 

My keuse beïnvloed niemand anders nie

 

Die leuen dat self-mutilering niemand anders raak nie, word uitgedaag deur die waarheid van Paulus se woorde in 1 Kor 12:25: “… sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra. As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.”

 

Dit is my liggaam en ek kan daarmee doen wat ek wil

 

Self-mutileerders verklaar eintlik deur hul gedrag dat hulle hul eie liggame teruggeneem het. Om te verklaar, “Hierdie is myne!” skep ten minste die illusie van mag en veiligheid.
Hierteenoor staan egter die uitspraak in 1 Kor 6:19-20: “Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? … julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik” (Clark & Henslin, 2007:45; Holm & Severinsson, 2010:55).

 

Indien ek die self-mutilering sou termineer, sal ek geen doeltreffende manier hê om my pyn te hanteer nie

 

Op ’n punt soos hierdie is die berader se rol nie om ’n alternatief voor te stel nie, maar om eerder ’n verhouding aan te bied aan jongmense wat huiwerig is en hulself op ’n afstand hou aangesien hul vertroue in die verlede telkens verraai is (Selekman, 2002:183; Gregston, 2006:48).

 

Indien ek nie myself sou mutileer nie, sal mense geen idee hê van hoeveel pyn ek aan die binnekant het nie

 

‘n Aspek soos hierdie bied aan die berader die uitdaging om ‘n kwaliteit-verhouding met sulke jongmense te ontwikkel. Volle erkenning sal gegee moet word aan hul behoefte aan verhoudings terwyl die metodes waardeur hulle dit probeer bereik egter uitgedaag moet word.
In reaksie op die leuen dat niemand hul pyn sal raaksien tensy hulle hulself mutileer nie, moet daar aan sulke verwonde jongmense die waarheid gebied word van ’n gemeenskap wat sensitief is vir hul behoeftes en ook daarop gefokus is om hulle op te bou (Kern, 2007:75; Clark & Henslin, 2007:56).

 

Ek moet sny want dan kom mense nie naby my om my seer te maak nie

 

Die enigste manier waarop hierdie leuen wat mense op ’n afstand probeer hou, sinvol uitgedaag kan word, is weer eens deur gesonde verhoudings. Om bloot daaroor te praat, gaan geen verskil maak nie. Om daaroor te preek, gaan hulle nie oortuig nie. Inteendeel, sal hierdie jongmense moet ervaar dat iemand regtig vir hulle omgee en vir hulle lief is (Brown, Williams & Collins, 2007:798).

Ek het steeds skuldgevoelens en kan myself nooit genoeg straf nie

 

Dit is ’n groot uitdaging om self-mutileerders te help om ware skuldgevoelens te onderskei van die valse skuldgevoelens wat hulle onregmatiglik op hulself geplaas het. Sulke jongmense is dikwels geneig om hulself te straf vir wie hulle is, eerder as vir wat hulle gedoen het. Penner (2008:119) sê dat wanneer hy die woorde lelik, stupid en verwerplik uitgekerf sien op ’n meisie se arm en sy hom vertel dat sy haarself sny omdat hierdie woorde waar is van haar, dan besef hy dat sy haar behoefte aan vergifnis (wat vryheid van skuldgevoelens meebring) verwar het met haar behoefte aan aanvaarding (wat ware hoop en heling meebring). Die goeie nuus van die Evangelie is dat sy ten volle aanvaar en ook ten volle vergewe is (Clark & Henslin, 2007:132; Hicks & Hinck, 2008:411; Holm & Severinsson, 2010:55).

 

Indien ek self-mutilering sou prysgee, kan ek moontlik uiteindelik iets erger aanvang

 

Net soos sommige van die ander leuens is hierdie een ook gewortel in vrees. Die spesifieke vrees by talle self-mutileerders is dat indien hulle die self-mutilerende gedrag sou beëindig  dit sou kon lei tot selfmoord. Hulle betaal gevolglik ’n groot prys ten einde selfmoord te prober verhoed en in hierdie opsig moet daar erkenning gegee word aan hul volharding en uithouvermoë. Wanneer hierdie leuen gekonfronteer word, is dit gevolglik belangrik om spesifiek erkenning te gee aan hierdie jongmens se begeerte om aan die lewe te bly. Hulle moet ook gewys word op die belangrikheid van hierdie  sterk punt wanneer hulle alternatiewe en minder destruktiewe wyses van oorlewing gaan eksploreer (Pattison & Kahan, 1983:867; Whitlock, 2010).

 

6.7 Die rol van vergifnis

Om ander te vergewe, kan vir die self-mutileerder ’n baie moeilike saak wees (Clark & Henslin, 2007:190). Hier moet in gedagte gehou word dat vergifnis nie noodwendig jare se pyn uitkanselleer nie. Die persoon moet ook toegelaat word om te praat oor die seer terwyl daar deur vergifnis gewerk word. Vergifnis is inderdaad ’n proses.
Wanneer dit sou blyk dat die proses van vergifnis geneig is om sekere oorweldigende emosies te sneller, dan is dit raadsaam om dit eerder saam met ’n berader te eksploreer wat begrip het vir die proses (Kern, 2007:171; Penner, 2008:95).

 

6.8 Die rol van Nagmaal

Clark en Henslin (2007:194) verwys na die geval van ’n self-mutileerder, Natalie, wat ’n sewe jaar lange stryd met self-sny gehad het. ’n Belangrike komponent van haar pad na genesing was die tyd wat sy bestee het aan haar geloof en geestelike transformasie. As deel hiervan het sy die besondere genesingskrag van Christus se inkarnasie ervaar deur die gereelde gebruik van Nagmaal. Sy beskryf haar ervaring soos volg:


“Sometimes the only thing that got me through the week was the Eucharist on Sunday and the symbolism of deep truths there. Taking Christ's body into mine and acknowledging that my body is holy now and belongs to God, that I am in fact a part of the body of Christ, meant so much. It made me realize that when I harm my body I am harming the body of Christ. The wine symbolizing Christ's blood coming inside me and cleansing every part of me reminded me it was done. I am clean, I am forgiven, and there is nothing else I have to prove” (Clark & Henslin, 2007:194).

 

6.9 Gebed en meditasie

Gebed en meditasie kan ‘n belangrike fasiliterende rol vervul met betrekking tot die innerlike vrede wat God vir die mens begeer. Self-mutileerders kan bemagtig word in die aanleer en effektiewe beoefening van hierdie geestelike dissiplines (Clark & Henslin, 2007:193).

 

6.10 Die rol van die kerk

Christen-jongmense wat worstel met self-mutilering ervaar ’n oorweldigende skuldgevoel as gevolg van hul klaarblyklike onvermoë om God se genesende krag vir hulself toe te eien. Dit wil voorkom asof God in staat is om al die ander persone te help om in oorwinning te leef, terwyl hulle slegs ’n reeks mislukkings beleef. Penner (2008:70) verwoord Mike se gevoelens in die verband soos volg:


“I look around me during the worship time at youth group. Everyone seems so into it with their hands raised and big smiles on their faces. I couldn't raise my hands even if I felt like it, cuz then everybody'd just be staring at my ugly arms. We sing songs about how God can take away our pain and heal our hurts, but my guess is that not one of those goody-goodies has ever had any real pain or hurt in their life.” 


Wanneer lidmate worstel met sodanige gevoelens van skuld en vervreemding en daar dan by kerklike leierskap ook nog die onvermoë bestaan om gepas te kan reageer op self-mutilerende gedrag, lei dit tot ’n groep gelowiges wat desperaat alleen is in hul pyn.
Volgens Kern (2007:34) is daar ’n groot behoefte aan meer gesprekke, veral ook in die kerk, betreffende die rol van pyn in mense se lewens. Aansluitend hierby doen Clark en Henslin (2007:150) ’n beroep op Christen-beraders om in ’n groter mate die belangrikheid van geestelike heling te modelleer.

 

7. Samevatting

Die verskynsel van self-mutilering by jongmense blyk ’n groeiende probleem te word. Dit gaan duidelik nie primêr om ’n poging tot selfmoord nie, maar eerder om ’n noodkreet betreffende diep innerlike letsels en wonde. Aan die pastorale berader sowel as die kerk bied dit ’n besondere uitdaging. Daar sal indringend kennis geneem moet word van basiese vertrekpunte en houdings wat bevorderlik kan wees
vir heling en genesing in die lewens van emosioneel gekwetste en verwarde jongmense.

 

Sleutelterme

-        Self-mutilering

-        Self-sny

-        Self-destruktiewe gedrag

-        Self-benadelende gedrag

 

Key concepts

-        Self-mutilation

-        Self-cutting

-        Self-destructive behaviour

-        Self-harm behaviour

 

BIBLIOGRAFIE
AIZENMAN, M. & JENSEN, M.A.C.

2007.  Speaking through the body: the incidence of self-injury, piercing, and tattooing among college students. Journal of College Counseling, 10: 27-43.

AMERICAN PSYCHIATRIC ASSOCIATION (APA).

2000. Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders. 4th ed. Washington, DC.

BRADSHAW, J.

2005. Healing the shame that binds you. Deerfield Beach, Florida: Health Communications.

BROWN, S.A., WILLIAMS, K. & COLLINS, A.

2007. Past and recent deliberate self- harm: Emotion and coping strategy differences. Journal of Clinical Psychology, 63(9): 791-803.

CLARK, J. & HENSLIN. E.

2007. Inside a cutter’s mind. Colorado Springs, Colorado:THINK, NavPress.

FREEMAN, H.

2003. Girls who cut. The Guardian, 2 Sept. 2003. Verkry vanaf: uhttp://www.guardian.co.uk/health/story/0,3605,1033775,00.html Datum van gebruik: 25 Junie 2006.

GRATZ, K.L. & ROEMER, L.

2008. The relationship between emotion dysregulation and deliberate self-harm among female undergraduate students at an urban commuter University. Cognitive Behavior Therapy, 37(1): 14-25.

GREGSTON, M.

2006.  The phenomenon of cutting. Texas: Heartlight Ministries.

HARMLESS.

2010a.  Factsheet 1. Advice for young people. Harmless is a user led organization that provides a range of services about self harm. http://www.harmless.org.uk/downloads.php?cat_id=1  Datum van gebruik: 14 Sept. 2010.

HARMLESS.

2010b.  Factsheet 2. Advice for friends and family. Harmless is a user led organization that provides a range of services about self harm. Verkry vanaf: http://www.harmless.org.uk/downloads.php?cat_id=1 Datum van gebruik: 14 Sept. 2010.

HEMFELT, R., MINIRTH, F. & MEIER, P.

2003: Love is a choice. Nashville: Thomas Nelson.

HICKS, K.M. & HINCK, S.M.

2008. Concept analysis of self-mutilation. Journal of Advanced Nursing, 64(4): 408-413.

HOLM, A.L. & SEVERINSSON, E.

2008. The emotional pain and distress of borderline personality disorder: A review of the literature. International Journal of Mental Health Nursing, 17: 27-35.

HOLM, A.L. & SEVERINSSON, E.

2010. Desire to survive emotional pain related to self-harm: a Norwegian hermeneutic study. Nursing and Health Sciences, 12: 52-57.

HORNING, G.

2010. Cutting. Cosmopolitan, 107-108, October.

KERN, J.

2007. Scars that wound: scars that heal. Cincinnati, Ohio: Standard Publishing.

KRUGER, R.

2010. Pastorale begeleiding van die emosioneel verwonde persoon met betrekking tot geïnternaliseerde leuens. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit. (Proefskrif – Ph.D).

LAX, R.

2010. Self-harm: looking behind the injury. Practice Nurse, 39(4): 5.

LEVENKRON, S.

1999. Cutting: Understanding and overcoming self-mutilation. New York City: W.W. Norton.

MCDONALD, A.N.

1995. Repressed memories. Can you trust them? Grand Rapids, Michigan: Fleming H. Revell.

MEIER, P.D., MINIRTH, F.B., WICHERN, F.B., & RATCLIFF, D.E.

2000. Introduction to psychology and counseling. Christian perspectives and applications. Grand Rapids, Michigan: Baker Books.

MINIRTH, B. & BYRD, W.

1994. Christian psychiatry. Grand Rapids, Michigan: Fleming, H. Revell.

PATTISON, E.M. & KAHAN, J.

1983. The deliberate self-harm syndrome. The American Journal for Psychiatry, 140(7): 867-872.

PENNER, M.  

2008. Hope and healing for kids who cut. Grand Rapids, Zondervan.

RYAN, K., ALLEN HEATH, M., FISCHER, L. & YOUNG, E.L.

2008. Superficial self- harm: Perspectives of young women who hurt themselves. Journal of Mental Health Counseling, 30(3): 237-254.

SCHOLTZ, J.G. & FIEDELDEY, A.C.

1994. Die belewenis van self-mutilasie by grenspersoonlikheidsversteuring. South African Journal of Psychology, 24(3): 138-144.

SELEKMAN, M.D.

2002. Living on the razor’s edge. New York: W.W. Norton.

SELEKMAN, M.D.

2010. Helping selfharming students. Educational Leadership, 67(4): 49-53.

SHAMOS, J.

2007. Body crimes. African Journal of Psychiatry, 255-256, Nov.

SIM, L., ADRIAN, M., ZEMAN, J., CASSANO, M. & FRIEDRICH, W.N.

2009. Adolescent deliberate self-harm: linkages to emotion regulation and family emotional climate. Journal of Research on Adolescence, 19(1): 75-91.

STRONG, M.

1998. A bright red scream: self-mutilation and the language of pain. New York City: Viking.

SWANNELL, S., MARTIN, G., SCOTT, J., GIBBONS, M. & GIFFORD, S.

2008. Motivations for self-injury in an adolescent inpatient population: development of a self-report measure. Australasian Psychiatry, 16(2): 98-103.

SWENSON, C.R.

1999. Book reviews of a ‘A bright red scream: self-mutilation and the language of pain’, by Marilee Strong, and ‘Cutting: understanding and overcoming self-mutilation’, by Steven Levenkron. Psychiatric Services, 50(9): 1234-1235, Sept.

THURMAN, C.

1999.The lies we believe. Nashville: Thomas Nelson Publishers.

WELSH, P.

2004. Students’ scars point to emotional pain. USA Today, 28 June Verkry vanaf: www.usatoday.com/news/opinion/editorials/2004-06-27-oplede_x.htm Datum van gebruik: 27 Oktober 2010.

WHITLOCK, J.

2010.  What do we know about self-injury? [Fact sheet] Cornell research program on self-injurious behavior in adolescents and young adults.  Verkry vanaf: http://www.crpsib.com/whatissi.asp Datum van gebruik: 11 Oktober 2010.

YIP, K.

2006. A strengths perspective in working with an adolescent with self-cutting behaviors. Child and Adolescent Social Work Journal, 23(2): 134-146.