Die ‘sondes’ van die vaders

Die ‘sondes’ van die vaders – hoe raak dit die kinders?

Verkennende perspektiewe tesame met enkele Pastorale kantaantekeninge

 

Prof Wentzel Coetzer

  

Abstract

“The sins of the fathers” – how does this affect the children? Explorative perspectives, together with some pastoral side-notes.

Exodus 20:5 refers to the “… punishing of children for the iniquity of parents, to the third and the fourth generation…” Should a statement such as this be interpreted against the background of the discipline of intergenerational trauma, it could also in a broader sense point to a number of aspects related to the unresolved trauma of previous generations being transmitted to successive generations. The focus in this article is consequently on the process of the transmission of trauma within succeeding generations and typical behaviour and symptoms in this regard are highlighted. Consequently, valuable relevant insights from research on the family systems theory (Murray Bowen), the field of traumatology (Charles Figley), as well as the use of a genogram are discussed. In conclusion, practical guidelines for the pastoral counselling process of family members who have been secondarily traumatised are presented together with some pastoral side-notes.

 

1.     Inleidend

Ex 20:5 is die locus classicus binne Bybelse konteks ten opsigte van die invloed van opeenvolgende geslagte op mekaar:

 

“Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag...”

 

Hieruit sou ‘n mens die afleiding wou maak dat kinders heel dikwels ly as gevolg van die oortredinge (en gepaardgaande pyn en seer en trauma) van die voorgeslagte. Hierteenoor volg egter op ‘n later stadium dan weer gedeeltes soos die volgende:

 

Jer 31:29-30: “In daardie tyd sal hulle nie meer sê: “Die vaders het groen druiwe geëet, en die kinders se tande het stomp geword” nie.  Elke mens sal oor sy eie sonde sterf: wie groen druiwe eet, se tande sal stomp word.”

 

Eseg 18:20: “Die mens wat sondig, sal sterwe. ’n Seun sal nie die straf op sy pa se sonde dra nie, en ’n pa sal nie die straf op sy seun se sonde dra nie.”

 

Op die oog af wil dit blyk asof laasgenoemde twee Skrifverwysings in teenstelling staan met die inhoud van Ex 20:5. Oor die jare heen is daar vervolgens in kommentare verskeie verklarings aangebied vir hierdie oënskynlike teenstelling. Een standpunt toon byvoorbeeld aan dat die volk Israel deur ‘n uiters moeilike fase gegaan het na die verwoesting van die tempel en die gevolglike ballingskap. Indien die profete onder hierdie haglike omstandighede steeds die klem sou lê op die feit dat hierdie straf selfs nog van toepassing sou wees op toekomstige generasies ook, dan sou dit alle hoop vir die toekoms vernietig het (Danieli, 1998:2).

Die fokus in hierdie artikel is dan vervolgens op die impak van onverwerkte trauma van vorige generasies op huidige geslagte, sowel as op die Pastorale begeleiding van sulke persone.

 

2.     Oriëntering

Trauma word soms beskryf as ‘n ongedefinieerde groot massa wat op onbewustelike vlak van een generasie na die volgende voortgedra word en in sekere omstandighede nie deur plek of tyd gedefinieer kan word nie. Hierdie proses strek soms oor verskillende generasies voordat dit uiteindelik afplat. Vanweë omstandighede is individuele oorlewendes nie altyd in staat om die proses af te handel ten opsigte van hulself nie en in ‘n sekere sin word dit dan aan hul kinders oorgelaat om daarmee voort te gaan. Dit geskied egter gewoonlik teen ‘n prys aangesien hierdie kinders dan worstel met herinneringe wat nie hul eie is nie (Auerhahn & Laub, 1998:22; Fossion et al., 1998:519). Hierdie kinders is verder dan ook geneig om meer intens te identifiseer met die verskriklike verlede van hul ouers as met hul eie aparte en unieke teenswoordige situasie. In hierdie opsig word trauma dan ‘n wond wat nooit heeltemal heel nie en die teenswoordige word geleef asof dit die verlede is. Hierdie proses word treffend deur Prager (1998:174) soos volg geformuleer:

 

“What is lost is an identity that demarcates the children’s experience from their parents… what is produced, in the same instance, is lost childhoods and lost generations.”

 

3.     Die proses van oordrag

Die oordrag van trauma deur ‘n ouer na ‘n kind vind volgens Nader (1998:572) op een van die volgende vier wyses plaas:

·       Uiterlike kommunikasie (overt)

·       Uiterlike gedrag (overt)

·       Bedekte metakommunikasie (ook op vlak van onderbewussyn - covert)

·       Geneties of biochemies

Die aard van traumatiese geheue is gewoonlik bepalend met betrekking tot die feit of dit meer uiterlik of meer op die vlak van die onderbewussyn gaan figureer -  byvoorbeeld eksplisiete versus implisiete geheue. Eksplisiete geheue is uiterlik, bewustelik en basies feitelik. Implisiete geheue is meer bedek en funksioneer meer op die vlak van die onderbewuste. Die uiterlike oordrag van trauma sal dan aspekte insluit soos verbale voorskrifte (kinders word byvoorbeeld geleer om trauma te verwag), modellering (om byvoorbeeld iets soos hulpeloosheid te modelleer), of ouers se posttraumatiese gewelddadige gedrag (byvoorbeeld gesinsgeweld en misbruik).

Wat betref die meer bedekte oordrag van trauma is daar dikwels ‘n onbewustelike dialoog aan die gang tussen ouer en kind deur middel van bedekte boodskappe. Die inhoud van hierdie boodskappe sentreer gewoonlik rondom onverwerkte persoonlike konflik aan die kant van die ouer asook die oordrag van familiemites, reëls en idees. Die kind wat met sulke boodskappe opgroei gaan byvoorbeeld uiteindelik self ook altyd die ‘ergste’ verwag. Volgens Nader (1998:573) bied dit dan ook die verklaring vir ‘n geval waar ‘n skooldogter oornag ‘n vrees vir die skool ontwikkel. Hierdie dogter was onbewus van haar moeder se seksuele trauma tydens kinderjare. Dit blyk egter dat hierdie skielike vrees vir die skool op presies dieselfde ouderdom na vore getree het as wat die moeder was toe sy die eerste keer gemolesteer was.

Wat betref genetiese of biochemiese faktore wys Nader (1998:574) op die resultate van navorsing op diere en mense wat bevestig dat sekere karakteristieke wat ‘n invloed op lewensomstandighede het, geneties of biochemies oorgedra kan word vanaf een generasie na ‘n volgende een. Daar word in hierdie verband gewys op psigogenetiese patrone wat geërf word en terug gespoor kan word vir vyf generasies. Elke nuwe trauma word dan deur middel van die fetus ‘n oorgeërfde disfunksionele psigogenetiese ervaring. Daar word ook gewys op die verband tussen latere fisiese trauma (byvoorbeeld die negatiewe gevolge van ‘n motorongeluk) en byvoorbeeld die moord vroeër op ‘n grootouer, of die ernstige aanranding van die moeder deur die vader tydens swangerskap, of die selfmoord van ‘n oupa. Daar word gekonkludeer dat daar ‘n sekere verband kan wees tussen sekere fisiese probleme en voorgeboortelike traumatiese ervarings of soortgelyke ervarings in die lewens van die ouers of grootouers – ervarings rondom aspekte soos intense verwerping of selfmoord (Nader, 1998:574). Hierdie standpunt word ondersteun deur Meier et al., (2005:82) wat beweer dat emosionele pyn hoofsaaklik deur een van drie faktore veroorsaak word, naamlik, gene, omgewingsfaktore of verkeerde keuses.

Met betrekking tot die rol van psigobiologiese faktore tussen generasies het Yehuda et al., (1998:652) se navorsing aangedui dat die kinders/kleinkinders van persone wat deur erge trauma gegaan het psigologies en ‘biologies’ meer kwesbaar is vir stres en trauma. In hul navorsing het hulle sterk gefokus op die mate waarin kortisol afgeskei word aangesien daar gevind is dat daar beduidende verskille is met betrekking tot die vlakke van kortisol in gevalle van individue met posttraumatiese stresversteuring.

 

3.1. Bydraende faktore

Kinders en kleinkinders van trauma oorlewendes is oor die algemeen meer kwesbaar vir verdere traumatisering. Nader (1998:574) identifiseer die volgende bydraende faktore in hierdie verband:

·       Verhoogde kwesbaarheid vir stres by kinders van oorlewendes.

·       Aangeleerde respons van ouers.

·       Ondermyning van die genesingsproses deur oorbeskermende ouers wat self oorlewendes (survivors) is.

·       ‘n Verskynsel wat soortgelyk is aan die verhoogde intensiteit van ‘n tweede traumatiese ervaring (in hierdie geval sal die ouers se aanvanklike trauma dan as die eerste gebeure dien).

·       ‘n Gevoel by hierdie kinders dat hulle voortaan die beskermers van hul ouers moet wees, tesame dan met al die emosionele probleme wat dit meebring.

 

3.2. Sameswering tot stilte

Die sameswering tot stilte (conspiracy of silence) is volgens Aarts (1998:180) oor die algemeen aan die kern van die dinamiek wat lei tot ernstige simptomatologie by die tweede generasie van trauma oorlewendes. Dikwels is dit die geval dat ouers hul kinders die detail van hul eie trauma wil spaar en daarom swyg hulle. Terselfdertyd is hulle egter besig om die konfrontering van hul eie onderdrukte emosies te systap. Kinders leer gevolglik dan ook vinnig om deel te wees van hierdie ‘conspiracy’.

Bar-On (1996:167) toon in hierdie verband aan hoedat selfs die terapeutiese gemeenskap bygedra het tot die verswyging van die familiegeskiedenis van beide die oorlewendes en die oortreders van die Tweede Wêreldoorlog. Hy verwys na die sogenaamde ‘dubbel muur ‘ fenomeen wat waargeneem is tussen oorlewende ouers en hul kinders sowel as tussen pasiënte en terapeute. Die dubbel muur fenomeen suggereer dat swygsaamheid in die gesin van beide kante af ondersteun word: ouers vertel nie en kinders vra nie. Wanneer een party egter wel ‘n venster in hierdie muur oopmaak, dan word hy/sy gewoonlik gekonfronteer met die muur van die ander persoon. Uiteindelik het geblyk dat daar baie min gevalle was van spontane insidente waar beide partye gelyktydig die vensters oopgemaak het om sodoende gevoelens te verbaliseer en wedersyds te aanvaar. As gevolg van verskeie faktore tydens die oorspronklike trauma kon die pyn en seer nie voldoende geverbaliseer en verwerk word nie en is die proses in ‘n sekere sin oorgelaat aan volgende generasies.

In sulke gevalle word daar telkens ‘n ‘geheim’ vanaf een geslag onbewustelik oorgedra na die volgende een en gesinne oorleef deur middel van onderdrukking, ontkenning en die bewustelike weglating van belangrike familie informasie. Hierdie proses versterk maar net verder die stilte en isolasie asook die gebrek aan woorde by die getraumatiseerdes, terwyl hul fisiese simptome dan dikwels ‘n vorm van verbalisering geword het (Abrams, 1999:226).

In sulke gesinne registreer die kinders dit wat hulle sien en aanvoel by die ouer – dit sluit in al die negatiewe emosies en nagmerries en soms onverklaarbare gedrag. Die kind kry dus boodskappe oor die ouer se verlede sonder dat daar noodwendig verbale kommunikasie plaasvind. Een van die uiteindelike gevolge is dat so ‘n kind self met onaanvaarbare gedrag kan begin (Op den Velde, 1998:152).

Navorsing bevestig verder dat die ontwikkeling van kinders wat met so ‘n ‘familiegeheim’ opgroei, belemmer word. Dit lei onder andere tot sosiale angs en ‘n gebrek aan sekuriteit. Indien hulle self later hierdie ‘geheim’ ontdek dan kan dit lei tot ‘n breuk met die ouers asook ‘n worsteling met gepaardgaande probleme. Dit is ook gewoonlik vir sulke kinders baie moeilik om ‘n gesonde en gebalanseerde identiteit binne hul gesinne te ontwikkel (Lindt, 1998:168).

Carder (1995:71) wys in hierdie verband op die volgende drie universele familie reëls binne disfunksionele gesinne: moenie praat nie; moenie vertrou nie; moenie voel nie. Deur hierdie reëls konsekwent toe te pas word die ‘familiegeheim’ soveel te meer bewaar en dig gehou. Wat die derde reël betref (moenie voel nie), gaan dit ook in ‘n groot mate om ontkenning. Dit wat onafgehandel en onverwerk is, gaan lê êrens onder die oppervlakte en binne die volgende generasie kom dit dan weer na bo.

 

4.     Die impak van ouers se trauma op volgende generasies

4.1. Letsels sonder ‘n wond

Baranowsky et al., (1998:248) beskryf die verskynsel van oordrag van trauma op ‘n volgende generasie soos volg:

 

“These offspring, the ‘second generation’ from the trauma, may thus bear the ‘scar without the wound’, since they are significantly, if only indirectly, affected.”

 

4.2. Een kind gewoonlik uitgekies

Bar-On (1996:170) toon aan hoedat gesinne van oorlewendes van die kampe van die Tweede Wêreldoorlog dikwels een kind ‘uitgekies’ het was as ‘memorial candle’ moes dien. Hierdie was die kind wat die emosionele lading moes dra van alles wat nie deur die ouers verwerk is nie. Dit is dan ook hierdie kind wat gewoonlik terapie benodig het aangesien hy/sy meer belas was as die ander kinders.

 

4.3. Tipiese gedrag/simptome

Gedrag en simptome soos die volgende word deur die literatuur uitgewys as tipies met betrekking tot die kinders en kleinkinders van trauma oorlewendes (Ancharoff et al., 1998:258; Raphael et al., 1998:330; Nader, 1998:578; Yehuda et al., 1998:651; Kestenberg, 1982:101; Hardtmann, 1982:231; Prager, 2003: 174; Kupelian et al., 1998:200; Baider et al., 2000:907):

o   Dagdromery, waarvan die inhoud ‘n ooreenkoms toon met die trauma van die ouers.

o   Skuldgevoelens en selfmoordneigings.

o   Gevoelens van hulpeloosheid en hopeloosheid.

o   Ongelukke en fatalistiese lewensuitkyk.

o   PTSD en gekompliseerde trauma.

o   ‘n Kind wat die ouerrol oorneem.

o   Oormatige skuldgevoelens.

o   Angs en aggressie.

o   Identiteitskrisis, swak selfbeeld en minderwaardigheid.

o   Die stig van brande.

o   Nagtelike drama as gevolg van slaapwandeling.

o   Emosionele onttrekking.

o   Gevoelens van ‘n ingeperkte toekoms.

o   Slaapprobleme.

o   Die behoefte om in die verlede te leef en hul ouers se vernedering, skande en skuld te verander in oorwinning oor die onderdrukkers. Die fantasie wêreld van so ‘n kind word dan ‘n replika van die ouers se traumatiese realiteit.

o   Swak konsentrasie vermoë.

o   Die geneigdheid om illusies rondom hulself en andere te bou.

o   Geen duidelike grense tussen ouers en kinders nie.

 

4.4. Prysgawe van die reg tot ouerskap

Auerhahn & Laub (1998:40) maak melding van talle gevalle van kinders van getraumatiseerde ouers wat geen begeerte het om uiteindelik self ouers te wees nie, en dit selfs ook as hulle lot sien. Hulle kan hulself ook nie vereenselwig met die gedagte van intimiteit nie.

 

“In all these instances, they unconsciously accepted the victimizers’ verdict of unfitness by relinguishing their birthright to join the natural order of generations.”

 

4.5. Die verlies aan ouerlike vaardighede

Hierdie aspek word besonder goed omskryf deur Fossion et al., (2003:524) met hulle stelling dat “… what is transmitted is not the trauma itself, but the impairment of the first generation’s parenting abilities.” Met betrekking tot die Aborigenes bevolking toon Raphael et al., (1998:335) die vernietigende impak aan van moeders wat nie in staat is om om te sien na hul eie kinders nie aangesien hulle sonder rolmodelle opgegroei het, en hoedat hierdie bose siklus vanaf een geslag oorgedra word na ‘n volgende een.

 

4.6. Selfde gedrag en simptome as die ouers

Kinders van getraumatiseerde ouers manifesteer soms neurotiese en psigotiese simptome soortgelyk of simbolies aan hul ouers se simptome of trauma (Ancharoff et al., 1998:258). Kestenberg (1982:87) vertel van terapie wat gedoen is met ‘n vierjarige seun (John) wat skielik met gekompliseerde gedrag begin worstel het. Uit ‘n gesprek met sy pa blyk toe dat hyself vier jaar oud was toe hulle as gesin uit Duitsland moes vlug. Toe hy agt was, moes die gesin weer vlug en voortdurend aan die beweeg bly om te verhoed dat die Nazi’s hulle vang. Tydens die terapie het verder geblyk dat John ‘n abnormale vrees vir busse het. Uit die gesprek met die pa blyk toe dat daar in sy eie kinderjare ‘n spesifieke busrit was onderweg na ‘n volgende skuilplek, wat baie traumaties was.

Abrams (1999:228) vertel van terapie met ‘n tienjarige dogter. Sy het ‘n verskeidenheid van vrese asook ekstreme skeidingsangs beleef wat net nie wou opklaar nie. Op hierdie selfde stadium is die dogter se pa ook verwys vir terapie as gevolg van ‘n verskeidenheid van fobies asook intense paniek aanvalle. Uit gesprekke het vervolgens geblyk dat die pa op dertienjarige ouderdom vir die eerste keer by sy ouers verneem het dat hulle van Joodse afkoms is. Hy is vervolgens aangemoedig om aan sy bejaarde pa te skryf en meer inligting te vra. In reaksie hierop vind hy toe uit dat beide sy ouers die Nazi’s kon ontvlug maar dat al die ander familielede om die lewe gebring is. Die konfrontering van hierdie trauma uit die verlede het uiteindelik geblyk ‘n kritiese keerpunt te wees in die pa se terapie. Dit het hom in staat gestel om aan sy eie angs en vrees te werk en daarna ook sy dogter te kon help. Abrams (1999:228) vat vervolgens die kern van haar artikel soos volg saam:

 

“This article is a powerful illustration of how a symptom appearing in the third generation, linked to hidden trauma two generations earlier, may resist change or understanding in individual therapy.”

 

4.6.1.   Liggaamlike simptome

Met betrekking tot ‘n studie van die trauma waardeur opeenvolgende generasies van die Aborigenes bevolking in Australië gegaan het, kom Sibthorpe (soos aangehaal deur Raphael et al., 1998:336) tot die konklusie dat al die psigososiale stressors wat op hierdie wyse ervaar is, uiteindelik ‘n direkte invloed op die gesondheid van huidige geslagte kan hê – dit vind plaas deur middel van die psigo-immuunsisteem, die neuro-endokriene stelsel asook ander meganismes.

 

“Then, the illnesses and problems of those parents, and their premature deaths, are likely to set a further substrate for health problems for subsequent generations” (Raphael et al., 1998:336).

 

4.7. Depressie en hartseer

Hartseer wat nie verwerk en afgehandel is deur die ouers nie gaan oor in depressie, en hierdie depressie gaan uiteindelik oor op die kinders (Duran et al., 1998:342). In sommige gevalle het geblyk dat die vlakke van depressie en psigososiale stres by kinders van getraumatiseerde ouers selfs hoër was as by die ouers self (Daud et al., 2005:31).

 

5.     Murray Bowen se bydrae

Met betrekking tot die rol van die sisteemteorie asook die invloed van een generasie op volgende generasies het die navorser Murray Bowen (1994) ‘n besondere bydrae gelewer.  Titelman (1998) bied in sy bydrae ‘n samevattende oorsig van Bowen se benadering en aan die hand van Bowen (1994), Titelman (1998) en Baker en Gippenreiter (1998) word vervolgens ‘n kort oorsig gebied van Bowen se vernaamste uitgangspunte en terminologie.

 

5.1. Afsnyding (cutoff)

Met betrekking tot hierdie term kan geografiese, fisiese of emosionele aspekte ter sprake wees en dit dui op die mate van verwydering of afstand wat daar tussen gesinslede kan ontstaan. Persone is geneig om hulself ‘af te sny’ vanaf hul gesin van oorsprong ten einde die ongemak en angs te verminder wat gepaard gaan met emosionele kontak. Intense emosionele afsnyding word egter oor die algemeen geassosieer met ernstige psigologiese, sosiale en kroniese fisiologiese probleme. Hierteenoor is dit so gesinne wat angs hanteer deur ‘n balans tussen outonomie en verbintenisse oor geslagte heen is geneig om minder ernstige probleme te hê. Verbintenisse tussen gesins en familie lede het verder geblyk ‘n buffer te wees teen gemeenskaps trauma asook ‘n meer effektiewe funksionering van opeenvolgende geslagte. In hul navorsing met betrekking tot die Stalin tydperk binne die Russiese geskiedenis toon Baker en Gippenreiter (1998:412) aan hoedat die mate van afsnyding tussen individue en hul families gemeet is aan die maatstaf van die mate van kennis wat kleinkinders van hul grootouers gehad het.

 

5.2. Differensiasie

Dit gaan hier oor die mate waarin individue in staat is om te onderskei tussen die gevoels proses en die intellektuele proses. Daar word gevolglik gefokus op die mate van fusie (samesmelting) of differensiasie tussen emosionele en intellektuele funksionering by gesins en familie lede. Dit dui verder op die verhouding tussen ‘n individu en sy/haar ouers in terme van die graad van onverwerkte/verwerkte verbintenis tot die gesin van oorsprong. Met betrekking tot disfunksionele gesinne is daar gevind dat daar dikwels óf ‘n oormatige betrokkenheid óf ‘n oormatige afstand tussen gesinslede bestaan. Die samesmelting (fusion) van identiteite in gevalle van oormatige betrokkenheid kan uiteindelik ‘n impak hê op elke area van ego funksionering. Een ego kan as’t ware funksioneer namens ‘n ander een – een gesinslid kan byvoorbeeld fisies siek word in reaksie op die emosionele stres by ‘n ander gesinslid. Die ideaal is gevolglik dat differensiasie in so ‘n mate sal plaasvind dat die individu meer objektief en neutraal sal kan staan met betrekking tot veral emosionele aangeleenthede binne die gesin van oorsprong. Differensiasie sal dus impliseer dat daar beheer is oor emosionele reaksies en dat daar ook gereelde besoeke sal plaasvind veral tydens belangrike geleenthede en gebalanseerde kontak met die familie op hierdie wyse gehandhaaf word.

 

5.3. Die driehoek boublok (triangle)

Vanuit ‘n biologiese sowel as psigologiese oogpunt is die drie-persoon eenheid volgens Bowen die basiese boublok binne die gesin/familie. ‘n Man en vrou is nodig ten einde ‘n kind te kan voortbring. Differensiasie is die teenoorgestelde van triangling aangesien differensiasie plaasvind wanneer die jong volwassene die huis verlaat en dan die eenheid van twee stabiele persone agterlaat na wie hy/sy nie verder hoef om te sien nie, en voortgaan om ‘n nuwe eenheid met iemand anders te vorm. Die proses van de-triangling (die losmaak vanuit ‘n ongesonde emosionele driehoeks verhouding) impliseer om afstand te behou ten opsigte van die familie/gesin se emosionele sisteem. Die basiese prinsiep in Bowen se teoreties-terapeutiese sisteem is dat

 

‘… the emotional problem between two people will resolve automatically if they can remain in contact with a third person who can remain free of the emotional field between them, while actively relating to each’ (Titelman, 1998:40).

 

‘n Persoon kan dus op ‘n later stadium terug kyk en duidelik sien binne watter driehoek-verhoudings hy/sy opgegroei het en tans poog om afstand te handhaaf met betrekking daartoe.

 

5.4. Knooppunte (nodal points)

Knooppunte of nodal points verwys na daardie betekenisvolle gebeure wat deurslaggewend is met betrekking tot die algemene lewenskoers van die multigenerasie familie sisteem. Bowen wys byvoorbeeld in hierdie verband op die korrelasie wat daar dikwels is tussen die aanvang van fisiese simptome by die kind, en die datum van sommige van hierdie knooppunte (of die herdenking van jaardatums). Gebeure wat byvoorbeeld tipies binne hierdie kategorie sal val, is die volgende: aanvang van skoolloopbaan, verandering van skool, gesins migrasie, egskeiding, hertroue, werkstres, werkloosheid, aftrede, fisiese veranderinge (menstruasie, puberteit, oorgangsjare), siekte, geboorte, en dood. Beraders word gevolglik opgeskerp om op die uitkyk te wees vir knooppunte wat korreleer met datums wat verband hou met die huidige situasie – hoe meer emosionele afsnyding daar in die verlede plaasgevind het vanaf die gesin van oorsprong, hoe meer negatiewe fisiese en emosionele simptome is geneig om mettertyd te ontwikkel binne die kerngesin.

 

5.5. Praktiese implikasies van Bowen se terapeutiese sisteem

Dit is belangrik dat die berader die familie sal aanmoedig om volle verantwoordelikheid te aanvaar vir hul eie verandering. Die terapeut moet ook daarteen waak om nie in die emosionele driehoek-verhoudinge van die familie ingetrek te word nie. Die proses van differensiasie moet ook voortdurend aangemoedig word met betrekking tot elke individu binne die sisteem – wat die ouers betref, geld dit veral ook met betrekking tot hul eie gesinne van oorsprong.

 

5.5.1.   Die gebruik van ‘n genogram

Hier gaan dit om ‘n versameling van die feite en tipiese patrone waaruit die betrokke familie sisteem bestaan. Al hierdie gegewens tesame vorm dan as’t ware ‘n ‘kaart’ waarvolgens intervensie beplan kan word. Afgesien van die belangrikheid van die verhouding tussen ‘n individu en sy/haar ouers word daar ook gelet op die emosionele veld waaraan elke individu verbind is, saamgesmelt is of van afgesny is, en wat gevolglik ‘n invloed op hom/haar het of wat deur hom/haar beïnvloed word. Die konsep van ‘die familie as ‘n sisteem’ dui volgens Bowen op ‘n konteks waar daar sprake is van ten minste drie generasies, maar verkieslik sewe, ten einde genoeg informasie te versamel om die effek van emosionele oorerwing te identifiseer. Die kerngesin asook die gesinne van oorsprong van beide huweliksmaats/ouers, insluitende die onderskeie uitgebreide gesinsisteme, konstitueer drie emosionele subsisteme wat onderling aan mekaar ‘geketting’ is. Hierdie ‘ketting’ is sterk aangesien die gebeure binne een subsisteem ‘n invloed het op die funksionering binne die ander subsisteme. Dit is ook so dat die emosionele wisselwerking tussen gesinslede emosionele velde veroorsaak wat gelaai is met betekenis en hierdie ‘betekenis’ word na volgende geslagte oorgedra.

‘n Reeks van vrae word uiteindelik gestel aan elke individuele lid van so ‘n familie sisteem ten einde die legkaart volledig te kry. Namate al die ontbrekende komponente ingevul word, kan dit die berader help om die verhouding te verstaan tussen die simptoom of presenterende probleem en die familie as ‘n multigeneratiewe sisteem.

Met betrekking tot die wisselwerking tussen generasies het Henslin (1995) en Carder (1995b) vanuit ‘n Pastorale hoek besondere bydraes gelewer deur byvoorbeeld te gaan kyk na sekere disfunksionele families in die Bybel. Hulle het dan ook ‘n familie stamboom opgestel van onder andere Dawid en sy familie (Henslin, 1995:23), asook Isak en sy familie (Carder, 1995b:49) en wys vervolgens op sekere patrone van trauma wat telkens herhaal vanaf een generasie na die volgende een. Vanuit die geskiedenis van hierdie twee Bybelse families identifiseer hulle dan uiteindelik sekere basiese pastorale beginsels wat kan bydrae tot heling en genesing binne families waar daar trauma en pyn aan die orde was (disfunksionele families/gesinne).

In hul boek, Forgiving our parents forgiving ourselves, het Stoop en Masteller (1996) ook vanuit ‘n pastorale vertrekpunt voortgebou op die basiese vertrekpunte van Murray Bowen. Volgens Stoop en Masteller (1996:42) blyk dit dat gesinne in werklikheid in ‘n verbondsverhouding met mekaar staan waarvan die effek na volgende generasies kan versprei omdat elke gesin ‘n skakel in die ketting is wat verskillende generasies koppel. Probleem-gesinne presenteer met ‘n disfunksionele dinamiek betreffende gesinsverhoudinge en gedragspatrone (Stoop & Masteller, 1996:30) en deur te identifiseer en te verstaan hoe die dinamiek van die gesin  elke individu spesifiek beïnvloed het, kan dit die proses van genesing stimuleer.  Dit word ook sterk beklemtoon dat die gesin nie bloot uit ‘n groep individue bestaan nie maar eerder as ‘n sisteem of ‘n organisme gesien moet word.  In hierdie organisme het die waardes en norme van elkeen in die gesin ‘n invloed op mekaar.  Die genogram (wat eintlik maar ‘n uitgebreide familie stamboom is) speel vervolgens ook ‘n belangrike rol in Stoop en Masteller se benadering en dit gaan vir hulle om ‘n skematiese voorstelling van die betrokke familie met so veel as moontlik inligting betreffende elke individu. Alle belangrike data asook onderskeidende persoonlikheidskenmerke en probleme word aangedui. Hieruit kan disfunksionele gedragspatrone verspreid oor generasies, vasgestel word met die doel om uiteindelik die negatiewe patrone positief te verander. Die rol van grense is byvoorbeeld ‘n belangrike kriterium in die opstel van so ‘n familie se genogram. Stoop en Masteller (1996:102) onderskei in hierdie verband tussen individuele grense, intergeneratiewe grense en gesinsgrense. Binne elk van laasgenoemde drie kategorieë kan daar dan weer drie tipe grense wees, naamlik rigiede grense, verstrooide grense (diffused), en veerkragtige grense (flexible). Op ‘n baie treffende wyse word al hierdie riglyne uiteindelik dan toegepas op die daarstelling van ‘n genogram van die nakomelinge van Abraham. Die gesinne van Isak en Jakob word almal betrek in hierdie genogram en duidelike lyne word aangedui wat deur die drie generasies geloop het betreffende sekere probleme wat alreeds aanwesig was in die generasie van die oupa (Abraham), en dan uiteindelik manifesteer in die daaropvolgende twee generasies.

 

6.     Figley se bydrae vanuit die traumatologie

Met betrekking tot die tema van intergeneratiewe trauma is dit belangrik om ook kennis te neem van die bydrae deur Charles Figley (1998). Hy beskryf uitbranding as ‘n vorm van sistemiese traumatiese stres wat heel dikwels binne ‘n gesin/familie manifesteer en bied dan ook ‘n model aan waarvolgens die betrokke individu deur ander lede van die sisteem ondersteun kan word. Volgens hierdie model word die ander lede aangemoedig om empaties betrokke te raak by hierdie lid deur byvoorbeeld die volgende vyf vrae te vra: Wat het gebeur? Waarom het dit gebeur? Waarom het ek gereageer soos wat ek toe gereageer het? Waarom het ek sedertdien gereageer soos wat ek gereageer het? Indien dit weer gebeur, sal ek in staat wees om dit te kan hanteer?

Deur op hierdie vrae te fokus, kan die slagoffer gehelp word om sy/haar gedrag dienooreenkomstig te verander. Tog is daar gevind dat in die proses om op hierdie wyse nuwe inligting te genereer, die helper heel dikwels dieselfde emosies ervaar as die slagoffer. Dit kan insluit visuele beelde, slaapversteurings, depressie asook ander simptome wat die direkte gevolg is van die visualisering van die slagoffer se traumatiese ervarings, blootstelling aan die simptome van die slagoffer, of beide. Volgens Figley (1998:21) is daar vervolgens ses faktore wat ‘n rol speel met betrekking tot medelye stres by die helpende gesinslid: empatiese vermoë, emosionele aansteeklikheid, empatiese besorgdheid, empatiese respons, dissosiasie vanaf die slagoffer, en die belewenis van sukses. In die tweede komponent van Figley se model toon hy aan hoedat die volgende vier faktore uiteindelik bydra tot medelye-moegheid (compassion fatigue) wat deur hom beskryf word as ‘n vorm van uitbranding: medelye stres, uitgerekte blootstelling aan die lyding van ‘n gesinslid, onverwerkte trauma, en die mate van ontwrigting ten opsigte van die alledaagse lewe.

Hierdie model doen verder ‘n beroep op gesinslede om gesamentlik nuwe vermoëns asook aanvaarbare praktyke te ontwikkel wat sal lei tot meer effektiewe gesinsondersteuning. Die gesin ‘oefen’ dan hierdie nuwe vaardighede en benaderings deur gereeld te besin oor die bronne van stres, stres reaksies en metodes van oorlewing wat bruikbaar of nie bruikbaar was nie. Op hierdie wyse word uiteindelik ‘n ‘genesings teorie’ ontwerp waardeur die gesinslede gehelp word om vrede te maak met, en te leer vanuit die stressors wat in die verlede ‘n invloed op hulle gehad het. Figley (1998:26) sluit die artikel met die beroep dat veel meer navorsing nodig is ten opsigte van die sistemiese koste van trauma met betrekking tot gesinne en families.

 

7.     Praktiese riglyne

·       Onverwerkte trauma van vorige geslagte kan ‘n intense impak hê op opeenvolgende geslagte en hierdie aspek moet in ag geneem word by die pastorale begeleidingsproses van getraumatiseerde persone oor die algemeen.

·       Gesien binne die interpretasie raamwerk van intergeneratiewe trauma sou die ‘sondes van die vaders’ van Ex 20:5 in ‘n breër sin ook kan verwys na ‘n verskeidenheid van faktore wat verband hou met onverwerkte trauma. Aspekte wat dan hier ter sprake kan wees, is byvoorbeeld die oordra van ‘letsels sonder ‘n wond’; ‘n verskeidenheid van negatiewe simptome en gedrag (vergelyk punt 3.3); die prysgawe van die reg tot ouerskap (aversie teenoor intimiteit); die verlies aan ouerlike vaardighede; dieselfde gedrag en simptome as die ouers (veral ook liggaamlike probleme); depressie en hartseer.

·       Die opstel van ‘n trauma geskiedenis van beide ouers (en selfs grootouers) het geblyk baie belangrik te wees. In hierdie opsig moet daar veral gelet word op parallelle ten opsigte van, enersyds, spesifieke datums asook sekere tye van die jaar, en andersyds, die manifestering van soortgelyke probleme by kinders en kleinkinders. Negatiewe fisiese en emosionele simptome wat blyk gekoppel te wees aan die herdenking van jaardatums van onverwerkte trauma, dien gewoonlik as belangrike rigtingwysers in die terapeutiese proses.

·       Binne getraumatiseerde (en ook disfunksionele) gesinne moet veral gelet word op die tipiese neiging om traumatiese gebeure uit die verlede te verswyg (conspiracy of silence). Sogenaamde ‘geheime’ wat vanaf een generasie na ‘n volgende oorgedra word, bevat gewoonlik belangrike terapeutiese sleutels. In hierdie verband is die vermaning in Jer 6:14 baie toepaslik: “You can’t heal a wound by saying it’s not there” (The Living Bible).

·       ‘n Totale gebrek aan emosionele kontak tussen gesinslede kan lei tot ernstige psigologiese, sosiale en kroniese fisiologiese probleme. In hierdie opsig kan kerklike gemeenskappe ‘n belangrike rol vervul in die bevordering van eenheid binne gesinstrukture met besondere verwysing na aspekte soos vergifnis en versoening.

·       Daar kan besonder terapeutiese waarde wees in die identifisering van óf oormatige betrokkenheid (fusion), óf oormatige afstand/afsnyding (cutoff) tussen gesinslede. Balans rondom hierdie aspek kan lei tot ‘n groter mate van emosionele stabiliteit en uiteindelike normalisering van verhoudinge.

·       Genesing kan gefasiliteer word deur persone te help om afstand te verkry vanaf ongesonde emosionele driehoeksverhoudinge.

·       Dit is belangrik om in gedagte te hou dat een familielid sekondêr getraumatiseer kan word deur die trauma van ‘n ander lid sonder om noodwendig self blootgestel te gewees het aan die trauma self – hierdie aspek beklemtoon die ‘sistemiese koste’ verbonde aan trauma. In die pastorale begeleiding van die betrokke gesin moet daar dan ook gelet word op die moontlikheid van sodanige sekondêre traumatisering.

·       Die gebruik van ‘n genogram kan ‘n besondere bydrae lewer in die daarstelling van ‘n geheelprentjie van ‘n betrokke familie – dit kan vervolgens ook dien as ‘n ‘kaart’ waarvolgens intervensie beplan kan word. In hierdie verband kan beginsels vanuit die Bybelse voorbeelde van die families van Abraham en Dawid byvoorbeeld as goeie riglyne dien. Bronne soos Bowen (1994), Titelman (1998), Carder et al., (1991) en Stoop en Masteller (1996) bied stap vir stap praktiese riglyne betreffende die samestelling van so ‘n genogram asook relevante vrae wat in die proses gevra moet word.

 

8.     Samevattende konklusie

Die aspek rondom onverwerkte trauma by ouers of grootouers het geblyk ‘n uiters belangrike faktor te wees in die pastorale begeleiding van persone wat worstel met ‘n verskeidenheid van negatiewe emosionele en fisiese simptome. Riglyne vanuit navorsing rondom die gesin as sisteem, asook die veld van traumatologie is besonder insiggewend in hierdie proses, terwyl die opstel van ‘n familiegeskiedenis met behulp van ‘n genogram ook geblyk het ‘n belangrike hulpmiddel te wees in die beplanning van die nodige stappe van die terapeutiese proses.

  

Bronnelys

Aarts, P.G.H. 1998.  Intergenerational effects in families of World War II survivors  from the Dutch East Indies. (In Danieli, Y., ed. International handbook of multigenerational legacies of trauma. New York: Plenum Press. p. 175-187.)

Abrams, M.S. 1999.  Intergenerational transmission of trauma: recent contributions from the literature of family systems approaches to treatment. American Journal of Psychotherapy, 53(2):225-231.

Ancharoff, M.R., Munroe, J.F. & Fisher, L.M. 1998.  The legacy of combat trauma. Clinical implications of inter-generational transmission. (In Danieli, Y., ed. International handbook of multigenerational legacies of trauma. New York: Plenum Press. p. 257-276.)

Auerhahn, N.C. & Laub, D.  1998.  Intergenerational memory of the Holocaust. (In Danieli, Y., ed. International handbook of multigenerational legacies of trauma. New York: Plenum Press. p. 21-42.)

Baider, L., Peretz, T., Hadani, P. E., Perry, S., Avramov, R. & De-Nour, A. K. 2000Transmission of response to trauma? Second-generation Holocaust survivors’ reaction to cancer. American Journal of Psychiatry, 157:904-910.

Baker, K.G. & Gippenreiter, J.B. 1998.  Stalin’s purge and its impact on Russian families. (In Danieli, Y., ed. International handbook of multigenerational legacies of trauma. New York: Plenum Press. p. 403-434.)

Baranowsky, A. B., Young, M., Johnson-Douglas, S., Williams-Keeler, L. & McCarrey, M.  1998.  PTSD transmission: a review of secondary traumatization in Holocaust survivor families. Canadian Psychology, 39(4): 247-256.

Bar-On, D. 1996. Attempting to overcome the intergenerational transmission of trauma.  (In Apfel, R.J. & Simon, B., eds. Minefields in their hearts. New Haven: Yale University Press. p. 165-188.)

Bowen, M. 1994.  Family therapy in clinical practice. Northvale, New Jersey: Jason Aronson.

Carder, D. 1995a.  The multigenerational transmission process. (In Carder, D., Henslin, E., Townsend, J., Cloud, H. & Brawand, A.  1995.  Secrets  of your family tree:  healing for adult children of dysfunctional families. Chicago: Moody Press. p. 67-91.)

Carder, D. 1995b.  Isaac and his family tree. (In Carder, D., Henslin, E., Townsend, J., Cloud, H. & Brawand, A.  1995.  Secrets  of your family tree:  healing for adult children of dysfunctional families. Chicago: Moody Press. p. 49-63.)

Carder, D., Henslin, E., Townsend, J., Cloud, H. & Brawand, A.  1995.  Secrets  of your family tree:  healing for adult children of dysfunctional families. Chicago : Moody Press.

Danieli, Y., ed. 1998.  International handbook of multigenerational legacies of trauma. New York: Plenum Press.

Duran, E., Duran, B., Yellow Horse Brave Heart, M. & Yellow Horse-Davis, S. 1998. Healing the American Indian soul wound. (In Danieli, Y., ed. International handbook of multigenerational legacies of trauma. New York: Plenum Press. p. 341-354.)

Daud, A., Skoglund, E. & Rydelius, P.  2005.  Children in families of torture victims: transgenerational transmission of parents’ traumatic experiences to their children. International Journal of Social Welfare, 14:23-32.

Figley, C.R. 1998.  Burnout as systemic traumatic stress: a model for helping traumatized family members. (In Figley, C.R., ed. Burnout in families. New York: CRC Press. p. 15-28.)

Fossion, P., Rejas, M., Servais, L., Pelc, I. & Hirsch, S.  2003.  Family approach with grandchildren of Holocaust survivors. American Journal of Psychotherapy, 57(4):519-527.

Henslin, E. 1995. David and his family tree. (In Carder, D., Henslin, E., Townsend, J., Cloud, H. & Brawand, A.  1995.  Secrets  of your family tree:  healing for adult children of dysfunctional families. Chicago: Moody Press. p. 23-47.)

Hardtmann, G. 1982. The shadows of the past. (In  Bergmann, M.S. & Jucovy, M.E., eds. Generations of the holocaust. New York: Basic Books, Inc., Publishers. p. 228-246.)

Kestenberg, J.S. 1982. Survivor-parents and their children. (In  Bergmann, M. S. & Jucovy, M. E., eds. Generations of the holocaust. New York: Basic Books, Inc., Publishers. p. 83-102.)

Kupelian, D., Kalayjian, A. S. & Kassabian, A.  1998.  The Turkish genocide of the Armenians.  (In Danieli, Y., ed. International handbook of multigenerational legacies of trauma. New York: Plenum Press. p. 191 -210.)

Lindt, M.W.J. 1998.  Children of collaborators. (In Danieli, Y., ed. International handbook of multigenerational legacies of trauma. New York: Plenum Press. p. 163-174.)

Meier, P., Clements, T., Bertrand, J. & Mandt, D.  2005.  Blue genes. Wheaton, Illinois: Tyndale.

Nader, K. O. 1998.  Violence – effects of parent’s previous trauma on currently traumatized children. (In Danieli, Y., ed. International handbook of multigenerational legacies of trauma. New York: Plenum Press. p. 571-583.)

Op den Velde, W. 1998. children of dutch war sailors and civilian resistance veterans. (In Danieli, Y., ed. International handbook of multigenerational legacies of trauma. New York: Plenum Press. p. 147-161.)

Prager, J.  2003.  Lost childhood, lost generations: the intergenerational transmission of trauma. Journal of Human Rights, 2(2): 173-181.       

Raphael, B., Swan, P. & Martinek, N. 1998.  Intergenerational aspects of trauma for Australian Aboriginal people. (In Danieli, Y., ed. International handbook of multigenerational legacies of trauma. New York: Plenum Press. p. 327-340.)

Stoop, D. & Masteller, J.  1996. Forgiving our parents forgiving ourselves. Ann Arbor, Michigan: Servant Publications.

The Living Bible. 1997.  Wheaton, Illinois: Tyndale House Publishers. Titelman, P., ed. 1998.  Clinical applications of Bowen family systems theory. New York: The Haworth Press.

Yehuda, R., Schmeidler, J., Elkin, A., Houshmand, E., Siever, L., Binder-Brynes, K., Wainberg, M., Aferiot, D., Lehman, A., Guo, L.S. & Yang, R.K. 1998. Phenomenology and psychobiology of the intergenerational response to trauma. (In Danieli, Y., ed. International handbook of multigenerational legacies of trauma. New York: Plenum Press. p. 639-655.)