Gepreokkupeerdheid met seksuele aktiwiteit

Die impak op die gesin van gepreokkupeerdheid met seksuele aktiwiteit geassosieer met internetgebruik – ‘n Pastorale perspektief

 

Prof Wentzel Coetzer

 

 

Abstract

The impact of preocupation with sexual activity, associated with the use of internet, on the family – a Pastoral perspective

Together with the tremendous growth in the number of users of the internet in recent years, there was a similar growth with regard to pornographic websites as well as internetsex. According to researchers and counsellors more and more families and individuals get stuck in this trap, with destructive results for marriages and children. This article focuses on the magnitude of this problem, it’s progressive character as well as a number of possible causes. Typical behaviour of those addicted to this problem is evaluated as well as the impact of this addiction on sexual intimicy within marriage. Pastoral guidelines that include a treatment program is discussed and practical hints are suggested. The article is concluded with a number of important websites of organisations that are providing via internet a large quantity of literature and support services.

 

Opsomming

Die impak op die gesin van gepreokkupeerdheid met seksuele aktiwiteit geassosieer met internetgebruik – ‘n Pastorale perspektief

Tesame met die geweldige toename van gebruikers op die internet die afgelope aantal jare, het daar ‘n soortgelyke groei plaasgevind ten opsigte van pornografiese webbladsye, met die gepaardgaande ‘internetseks’ daaraan gekoppel. Die praktyk toon aan dat al meer gesinne en individue in hierdie slaggat vasval, met destruktiewe gevolge vir huwelike en kinders. Hierdie artikel fokus op die omvang van hierdie probleem, die progressiewe aard daarvan, asook op heelwat van die aanleidende oorsake. Tipiese gedrag van verslaafdes word ge-evalueer asook die impak van hierdie probleem ten opsigte van intimiteit binne die huwelik. Pastorale riglyne wat ook ‘n behandelingsprogram insluit, word bespreek en praktiese wenke word aan die hand gedoen.  Ten slotte word ‘n aantal belangrike webadresse gegee van organisasies wat via die internet ‘n magdom van literatuur, hulpmiddele en ondersteuningsdienste beskikbaar stel.


 

 

1.  Die fokus asook metodologiese vertrekpunt van hierdie artikel

In hierdie artikel word die volgende probleemstelling ondersoek: In watter mate kan pastorale begeleiding ‘n terapeutiese rol vervul aan persone wat binne ‘n gesinsopset in ‘internetseks’ vasgevang geraak het? In hierdie verband word daar gefokus op die aktualiteit, omvang asook vernietigende gevolge van ‘n gepreokkupeerdheid met seksuele aktiwiteit geassosieer met die inernet. Die aanleidende faktore, tipiese gedrag asook destruktiewe impak op die huwelik en gesin word ook uitgelig. Ten slotte word pastorale riglyne asook praktiese wenke aan die hand gedoen waarvolgens persone en gesinne gehelp kan word.

Betreffende metodologie is die vertrekpunt vanuit  ‘n psigologies-georiënteerde pastorale benadering. Indien die DSM-IV klassifikasiestelsel (Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders)(APA 1994) genoegsame voorsiening gemaak het vir die akkommodering van die probleem van seksuele verslawing geassosieer met die internet, dan sou hierdie taak veel makliker gewees het (vergelyk die artikel van Coetzer (2005) vir ‘n meer volledige bespreking van pogings wat tans aan die gang is om meer uitgebreide definiëring met betrekking tot seksuele verslawing ingesluit te kry in die toekomstige DSM-V). In verskeie opsigte is die area wat in hierdie artikel verken word dus ‘n braakveld.

 

2.  Aktualiteit en statistieke

Die groei van die internet was fenomenaal die afgelope dekade. Voor 1993 was dit slegs gebruik deur ‘n paar persone in laboratoriums en universiteite. Gedurende 2001 was daar al meer as 94 miljoen gebruikers (Schneider 2003:331).  Op 12 Sept, 2005, het dié syfer reeds op 938 miljoen gestaan (Internet World Stats 2005).

Daar word bereken dat ongeveer 200 seksueel eksplisiete webbladsye daagliks tot die internet bygevoeg word. Gallagher (2005:81) haal navorsing aan waarvolgens die persentasie van programme met seksuele inhoud in die VSA vermeerder het vanaf 56% in 1998 na 68% in 2000. Dit blyk ook dat die woordjie ‘seks’ dié term is ten opsigte waarvan daar die meeste soektogte op internet is, terwyl deelname aan een of ander vorm van aanlyn seksuele aktiwiteit voorkom by 20% van alle Internet gebruikers (Chaney & Dew 2003: 259). Indien daar op ‘n soekfunksie soos Google ingegaan word, en die term ‘sex’ in die soekhokkie ingetik word, dan is daar 211 miljoen webbladsye wat aangedui word - die term ‘pornography’ lewer 17,5 miljoen webbladsye (soos op 13 Sept, 2005). 

Daar word beweer dat tot soveel as 60% van alle besoeke aan webbladsye, gefokus is op pornografiese adresse (Laaser 2001:39). Volgens Ferree (2003:385) dui sommige navorsing daarop dat slegs vir die jaar 2002 daar tot soveel as $83 biljoen (R528 biljoen) gespandeer is op ‘internetseks’. Die organisasie, Focus on the Family, berig dat hulle in hul pastorale telefoondiens die afgelope aantal jare ‘n toename van 12% na 20% beleef ten opsigte van oproepe wat verband hou met een of ander probleem wat voorstpruit uit aanlyn pornografie (King 2003:193). Laaser (2001:42) berig dat een van sy kliënte by geleentheid $85,000 (R541,000) in een maand spandeer het op pornografiese webbladsye waar ‘n fooi gehef word. ‘n Moeder het ook aan hom vertel dat hulle ses-jarige seun ‘n paar duisend dollar skuld op die gesin se kredietkaarte gemaak het tydens besoeke aan pornografiese webbladsye.

Coppock (2003:135) verwys na ‘n ondersoek in die VSA waaruit geblyk het dat een uit vier kinders tussen die ouderdom van 10-17 jaar reeds blootgestel was aan internet pornografie.

Volgens navorsing deur die Sexual Recovery Institute of Los Angeles is daar meer as 25 miljoen mense wat weekliks besoeke bring aan pornografiese webadresse en dat een uit elke 10 webadresse verband hou met eksplisiete seks. In die lig hiervan is die blote finansiële detail betreffende pornografie oorweldigend aangesien 74% van alle inkomste rondom internet verband hou met pornografiese webbladsye (Richards 2003:62; Gallagher 2000:261).

 

3.  Vernietigende gevolge

Daar is talle gevalle waar betrokkenheid by seksuele aktiwiteite via internet op aftakelende en vernietigende gevolge uitgeloop het. Die volgende dien as enkele voorbeelde in hierdie verband:

·        Op 21 Junie 2003 was die voorbladberig van die Saturday Star die volgende: Dad uses ‘net to rape daughter (Makgalemele 2003:1). Die pa het onder ‘n vals naam via een van die kletskamers (chat rooms) op internet met sy elf-jarige dogter kontak gemaak en haar oortuig dat dit nie verkeerd is om seksueel te verkeer met ‘n pa nie. Sy het uiteindelik toegegee en vir die volgende vier jaar het hy haar seksueel misbruik.

·        In Beeld van 18 Julie 2003 het ‘n berig verskyn met die opskrif, Eks-marinier in hof nadat hy kind glo in lokval lei (Pamplin 2003:3). Dit gaan oor ‘n voormalige Amerikaanse marinier wat ‘n 12-jarige Britse meisie ontvoer het. Dit twee het mekaar in ‘n internet-kletskamer ontmoet. ‘n Bron ná aan die ondersoekspan het gesê dat hy die naïewe meisie in sy lokval gelei het en dat hy dit oor ‘n tydperk beplan het.

·        In Beeld van 15 Jan 2003 het ‘n berig verskyn met die opskrif, Styging in kinderpornografie – toegang tot internet deur selfone dra by tot oortredings (Versluis 2003:6). Volgens hierdie berig het die groei van die internet ‘n styging van 1500% in kinderpornografie oortredings meegebring.  Luidens die verslag erken talle pedofiele dat blootstelling aan beelde van kindermisbruik hul seksuele fantasieë aanvuur en dan daartoe bydra dat hulle seksuele misdade teen kinders pleeg.  In die dae voor die internet het polisieklopjagte net ‘n handvol foto’s opgelewer – dit is vandag egter nie ongewoon dat ‘n enkele verdagte met tienduisende beelde op sy rekenaar gevang word nie.  In 2003 is ‘n man in Lincolnshire (Engeland) met 450,000 beelde van kindermisbruik betrap terwyl ‘n persoon in New York betrap is met een miljoen stukke pornografie. Terwyl  kinderpornografie in die verlede net tussen versamelaars versprei is, word georganiseerde misdaad nou gepleeg en groot getalle foto’s word gemaak om verkoop te word. Die kinderwelsynsorganisasie, NCH in Brittanje, waarsku dat derdegenerasie-selfone bydra tot die probleem aangesien die internet op hierdie wyse op ‘n groot skaal ‘mobiel’ word en gesteun word deur nuwe, gevorderde selfone. Bykans al die kwessies oor kinderveiligheid oor die internet word ingewikkelder wanneer die internet straat toe gaan.

 

In hierdie selfde verband haal Carnes (2001:77) die volgende drie gevalle aan:

  • Robert Glass pleaded guilty Thursday to strangling a woman during sex after they met in an online chatroom in 1996 (Charlotte Observer January 2000).
  • A mayoral candidate who abruptly dropped out of the race last month had been arrested a day earlier on charges of soliciting sex on the internet (Arizona Republic February 2000).
  • A French woman who was wooed on the internet, then traveled to meet her suitor, was found dead in an apparent suicide after the man used her for sex and kicked her out, police said (Associated Press 2000).

 

4.       Aanleidende faktore

4.1 Die verleidelike aard van die internet

Hierdie aspek dra grootliks by tot seksuele wanpraktyke. In hierdie verband word veral op die volgende drie bydraende faktore gewys (Schneider 2003:331; Carnes 2001:81; Coetzer 2004:51):

 

4.1.1   Dit is toeganklik

Inleidend tot hierdie artikel is reeds gewys op die ongeveer 938 miljoen internet-gebruikers tans, en hierdie syfer groei steeds op ‘n daaglikse basis. Pornografie is dus maklik toeganklik, wettig en bereikbaar in die privaatheid van jou eie huis. Daar is byvoorbeeld ook nie die direkte risiko van seksueel-oordraagbare siektes nie.

 

4.1.2   Dit is bekostigbaar

Toegang tot meeste van die webbladsye is aanvanklik gratis terwyl toegang tot kletskamers deurgaans gratis is.

 

4.1.3   Dit is anoniem

In die verlede het persone dit dikwels as ‘n verleentheid beleef om toegang te verkry tot

pornografiese materiaal. Dit was soms by swak boekwinkels in slegte dele van die stad. Tans, in die privaatheid van jou eie huis, kan jy toegang verkry tot die mees perverse vorme van pornografie, insluitende kinder pornografie. Dit is ook baie maklik om deur middel van ‘n kletskamer kontak te maak met andere wat met dieselfde emosionele gebondenheid en verslawing worstel. Die anonimiteit gekoppel aan hierdie metode maak dit gevolglik maklik vir talle persone - veral vir diegene wat sosiaal geïnhibeer is. Nodeloos om te sê dat talle van hierdie kletskamers dikwels gevul is met seksueel verslaafde individue - persone wat op soek is na nuwe ervarings - soos roofdiere op soek na ‘n prooi.

Bovermelde drie punte word treffend in Engels aangedui as die “Triple A” gevare van die internet: accessible, affordable, en anonymous.

 

4.2   ‘n Besondere aantrekkingskrag vir vroue

Volgens Ferree (2003:388) raak vroue veral betrokke by internetseks omdat die internet ‘n ideale ‘verhoudings voertuig’ is. Sy beskryf seksuele kompulsiwiteit dan ook as ‘n ‘hofmakery-versteuring’ (courtship disorder). By hofmakery gaan dit om ‘n proses waarin verhoudings geskep en gebou word – hierdie proses is egter deur die internet dramaties verander. Sekere aspekte van hierdie hofmaak proses word spesifiek beperk deur die internet, en in hierdie verband bespreek Ferree (2003:388) die volgende agt aspekte.  Hierdie aspekte gee ook ‘n goeie aanduiding van waarom veral vroue maklik hierby betrokke raak:

o   Dit elimineer metakommunikasie leidrade soos toon, gesigsuitdrukking en liggaamstaal. Dit laat ook persone toe om beheer uit te oefen ten opsigte van die inligting wat gedeel word, wat dan ook onbeperkte geleentheid bied tot misleiding.

o   Internet kommunikasie kweek pseudo-intimiteit, waar persone onder die indruk verkeer dat hulle mekaar baie goed ken. Dit is omdat die anonieme omgewing die proses as’t ware aanhelp waardeur hulle veel meer inligting omtrent hulself openbaar, en ook binne ‘n baie korter tyd as wat die geval in die werklike lewe sou wees.

o   Die internet verhoed fisiese kontak, wat eintlik belangrik is vir alle verhoudings, met die gevolg dat werklike en diepgaande binding moeilik kan plaasvind. Die essensiële komponente van die normale hofmaak proses ontbreek dus – aspekte soos waarneming, aangetrokkenheid, aanraking, die skepping van intimiteit, asook verbintenis (commitment).

o   Moderne tegnologie maak dit moontlik dat die gevoel daar is van onmiddellike (maar tog kunsmatige) konneksie met die ander persoon. Hierdie aspek dra in ‘n groot mate by tot vroue se deelname aan internet seks. Wat hierdie proses verder aanhelp, is die feit dat die ongemaklikheid of die risiko’s verbonde aan ‘n persoon tot persoon interaksie geëlimineer kan word.

o   Die kuber-omgewing systap die struikelblok van fisiese aantreklikheid. Gebruikers kan valse attribute aan hulself toedig, hul foto’s elektronies verander na willekeur of selfs iemand anders se foto gebruik.

o   Die internet laat ‘n vrou ook toe om in totale beheer te wees van haar seksuele aktiwiteite en verhoudings. Sonder die element van fisiese dominansie is die speelveld aanlyn gelyk en besit vroue ‘n gelyke mate van outoriteit en seggenskap – kwaliteite wat soms ontbreek binne die arena van die werklike lewe.

o   Die fantasie wêreld van die internet het ‘n besondere aantrekkingskrag vir vroue wat emosioneel onstabiel is, onseker van hulself, onseker oor hul voorkoms en sukkel met kommunikasie en verhoudings. Hulle is dikwels op soek na iemand wat hulle goed kan laat voel oor hulself, en die internet se omgewing van illusie kan voorsien in hierdie behoefte. Die web transformeer seksuele aktiwiteite en verhoudings waaroor gefantaseer word, na die werklikheid toe – ten minste virtuele werklikheid.

o   Die besondere aard van rekenaar interaksie verander die wyse waarop mense kommunikeer. Via internet het elke persoon tyd om gedagtes te formuleer en dit effektief te kommunikeer. In die werklike lewe mag dit moontlik anders wees aangesien hierdie selfde persoon iemand mag wees wat normaalweg die ander persoon onderbreek en domineer – die reëls van internet kommunikasie verberg dus hierdie tekortkoming en hierdie persoon vertoon eintlik beter as wat in werklikheid die geval is.

 

4.3   ‘n Stimulering van selfbeeld en eiewaarde

In ‘n studie deur Chaney en Dew (2003:268) waarby dertien persone betrek is wat op ‘n gereelde basis deelneem aan internet seksuele aktiwiteite, het ál dertien aangedui dat hulle telkens positiewe gemoedsveranderinge beleef as gevolg van hulle aktiwiteite op internet. Vanweë die aandag van andere het hulle telkens verhoogde eiewaarde ervaar. Verskeie van hierdie persone het ook aangedui dat gevoelens van verveeldheid, alleenheid en stres telkens die aanleidende faktor was ten opsigte van aanlyn aktiwiteite. Een persoon het byvoorbeeld aangedui dat hy in sulke situasies ‘n behoefte het aan selfbevrediging deur masturbasie of visuele stimulasie - daarna voel hy normaalweg vir ‘n tyd lank verlig en vry van stres.

 

4.4  Afstand en ‘n verlies aan realiteit

Persone kan as’t ware uit die huidige situasie met al sy probleme uitbeweeg, en tyd speel dan geen rol nie. “When I am in chat rooms, I forget time and troubles. I have to set a timer not to stay on too long” (Chaney & Dew 2003:269). Daar is ‘n verlies van kontak met hul eie gedagtes, gevoelens, aksies en identiteit wanneer hulle betrokke is by aanlyn seksualiteit of kyk na seksueel eksplisiete webbladsye.

 

4.5  ‘n Riskante uitdaging

Vir sommige verslaafdes lei riskante aanlyn seksuele aktiwiteite tot ‘n al groter stimulasie en opgewondenheid as wat normaalweg die geval sou wees. Reaksies soos die volgende is tiperend hiervan:

 

I always feel like I am going to be found out and that is exciting. I love

   the rush of it.

-  There is no more excitement this way. My partner and friends are

   boring to me. What’s exciting is not knowing who you could meet. It’s

   like opening a gift on Christmas, a guy could be really nice and really

  hot or he could kill you (Chaney & Dew 2003: 270).

 

4.6    Behoefte aan sosiale kontakte

Onder die respondente wat betrek is by die studie van Chaney en Dew (2003:270) was daar in die meerderheid van gevalle ‘n gebrek aan sosiale verbintenisse asook gevoelens dat hulle nêrens behoort nie – dit het weer die gevoelens van eensaamheid versterk. Via die internet kon hulle dan vriendskap, liefde en intimiteit ervaar.

 

5.  Progressie

In ‘n studie waarby 1117 respondente betrek is, het Whitty (2003:576) bevind dat aanlyn seksuele aktiwiteite by ‘n groot persentasie van gevalle uiteindelik uitloop op persoonlike fisiese kontak. Sy wys ook op studies wat in die verlede reeds aangetoon het dat talle individue die hoop het om uiteindelik ‘n persoonlike ontmoeting te hê met hul kuber-maats.

Die toleransie beginsel met betrekking tot verslawing impliseer dat daar mettertyd meer en meer aktiwiteite moet plaasvind ten einde dieselfde resultaat te bereik. Dit sal impliseer meer ure op die internet, meer seksuele maats, meer bisarre en riskante aktiwiteite, of om te beweeg vanaf virtuele na werklike seksuele ontmoetings (Schneider 2003:335). ‘n Dertig-jarige vrou wat ‘n disket met pornografie in haar man se rekenaar ontdek het, beskryf dit soos volg:

 

Cybersex really accelerated the addiction on his part. It went from just magazines and movies to spending hours on end on the computer looking at images, to hours on end chatting with anyone who would ‘talk’. It took only 3 months to go from simple e-mail to all this, and he said it would have only been a matter of time before he did start to meet women in person, had I not found the disk (Schneider 2003:335).

 

6.  Tipiese gedrag

6.1  Agt algemene kriteria

Ten opsigte van die moontlikheid van internet verslawing gee Gregoire en Jungers (2004:78) die volgende agt kriteria:

§  Preokkupasie met die internet;

§  ‘n Toenemende hoeveelheid tyd wat op die internet spandeer word ten einde innerlik bevredig te voel;

§  Herhaaldelike pogings en mislukkings om die gebruik van internet te beheer of te verminder;

§  Negatiewe emosionele reaksies (soos depressie) as gevolg van pogings om internet gebruik te verminder;

§  Langer aanlyn sessies as wat oorspronklik beplan is;

§  Die benadeling van loopbaan geleenthede of geleenthede tot selfverryking, as gevolg van internet gebruik;

§  Die gebruik van die internet as ‘n wyse van ontvlugting.

‘n Bevestigende antwoord op vyf van die agt kriteria sou sterk kon dui op die moontlikheid van verslawing.

 

6.2  Tipiese seksuele aktiwiteite

Schneider (2003:333) het onderhoude gehad met 91 vroue en 3 mans wie se huweliksmaats verslaaf geraak het aan ‘internetseks’. Uit die reaksie van hierdie respondente het die volgende tipiese seksuele aktiwiteite geblyk aan die orde te wees ten opsigte van hul huweliksmaats:

·        Die kyk of aflaai van pornografie terwyl daar gemasturbeer word.

·        Die lees of skryf van seksueel eksplisiete briewe en stories.

·        Die gebruik van e-posse om persoonlike ontmoetings te reël.

·        Die plasing van advertensies om seksuele maats te ontmoet.

·        Die besoek van seksueel georiënteerde kletskamers.

·        Die betrokkenheid by interaktiewe aanlyn flirtasies met persone van dieselfde ofteenoorgetelde geslag.

·        Dit het ingesluit die kyk na mekaar se liggame met behulp van elektroniese kameras wat aan die rekenaar gekoppel is.

·        Telefoniese seks met persone wat aanlyn ontmoet is asook aanlyn flirtasies wat uiteindelik uitloop op fisiese gemeenskap.

·        Verskeie van die respondente was ook bewus van deelname deur hul huweliksmaats aan onaanvaarbare of onwettige aanlyn aktiwiteite soos sado-masochisme, bestialiteit, kinderpornografie en seks met minderjarige persone.

 

6.3  Ontkenning

Ontkenning is ‘n baie algemene tendens onder diegene wat by ‘internetseks’ betrokke is (soos ook by ander vorme van verslawing). Oor die algemeen is daar ‘n gebrek aan insig ten opsigte van die nadelige uitwerking wat hul kompulsiewe aanlyn seksuele gedrag het op die lewens van diegene ná aan hulle. Hulle is ook geneig om hul eie optredes te regverdig, te minimaliseer en te rasionaliseer (Chaney & Dew 2003:267). Daar is talle voorbeelde van  huwelike wat opgebreek het as gevolg van ‘n huweliksmaat wat nie bereid is om die probleem te erken of te gaan vir berading of hulp nie (Schneider 2003:335).

Carnes (2001:81) wys op die feit dat die gebruikers van ‘internetseks’ geneig is om staat te maak op ‘n gebrekkige tipe van denkwyse. Hulle sal vir hulself sê dat ‘internetseks’ nie ‘n werklikheid is nie aangesien dit ‘virtueel’ is. Hulle sal rasionaliseer deur te sê dat ‘internetseks’ vergelyk kan word met die speel van ‘n virtuele rekenaarspeletjie. Op hierdie wyse mislei hulle hulself dan ook deur te dink dat hulle op enige gegewe stadium alles sou kon termineer indien hulle wil.

 

7.  Impak op die huwelik en gesin

Whitty (2003:576) het gevind dat ‘internetseks’ asook gesprekke via internet met betrekking tot seksualiteit (hot chatting) ‘n groter gevaar inhou as pornografie, aangesien die kans groter in die geval van eersgenoemde is dat dit kan uitloop op konkrete ontmoetings en fisiese kontak. Daar is die standpunt wat soms gehuldig word dat dade wat in die kuberruimte plaasvind nie ‘n ‘werklike’ impak op die individu se lewe kan hê nie aangesien die menslike liggaam as sodanig binne hierdie ruimte ontbreek. Die resultate van ‘n studie soos dié van Whitty (2003:576) waarby 1117 respondente betrek is, dui egter op die teendeel. Daar is gevind dat individue bereid is om aanlyn intieme detail aan iemand anders bekend te maak (emosionele ontrouheid) en voortspruitend hieruit dan ook in fisiese seksuele aktiwiteite betrokke te raak (seksuele ontrouheid). Die verdere gevolgtrekking van hierdie studie is dat die huweliksmaat geneig is om presies dieselfde waarde toe te ken aan dade van ontrouheid aanlyn as wat die geval sou wees in die werklike lewe (offline). Die aftakelende effek wat aanlyn seksuele aktiwiteite dus op ‘n huweliksverhouding kan hê, is gevolglik geensins minder intens as in die gevalle waar die internet geen rol sou speel nie – hiervan kan navorser self getuig vanuit talle berading gesprekke die afgelope aantal jare met pare waar een van die twee vasgeval geraak het in ‘internetseks’.

Carnes (2001:81) en Schneider (2003:341) bevestig hierdie selfde standpunt. ‘n Groot persentasie huweliksmaats beskou aanlyn seksuele aktiwiteite in dieselfde lig as egbreuk, veral om die volgende redes:

·        Internetseks loop gewoonlik uit op geheimhouding van aktiwiteite asook leuens – laasgenoemde is dikwels die mees pynvolle deel van die hele saak.

·        Die huweliksmaat voel verraai, gedevalueer, bedrieg en eenkant gestoot – dieselfde as wat beleef word tydens werklike huweliksontrou.

·        ‘Internetseks’ takel die seksuele verhouding binne die huwelik af.

·        'n Persoon in die werklike lewe kan nie kompeteer met fantasie nie. Die verslaafde verloor belangstelling in sy/haar huweliksmaat aangesien hy/sy nou ‘ideale’ verhoudings het waar daar geen beslommernis aan gekoppel is nie.

·        'Internetseks’ neem as’t ware die verslaafde weg vanaf die huweliksmaat, veral in terme van tyd en emosies. Dit loop dikwels uit op ‘n emosionele losmaking vanaf die huwelik.

·        Die anonieme en tog interaktiewe aard van hierdie verslawing is uiters subtiel aangesien die onderskeid tussen fantasie en realiteit so vaag is.

 

8.  Impak op huweliksmaat se emosies

Die volgende emosies is tiperend van dit wat oor die algemeen ervaar word deur die huweliksmaat van die persoon wat by ‘internetseks’ betrokke raak:  ‘n Kombinasie van gevoelens van verplettering, seer, verraad, verlies van eiewaarde, wantroue, suspisie, vrees en ‘n gebrek aan intimiteit in hul verhouding. Hiermee saam gaan ook ekstreme woede en bitterheid; die gevoel van seksueel onaantreklik, lelik en inkompetent te wees; ‘n twyfel ten opsigte van eie oordeelsvermoë en ‘n bevraagtekening van eie geestesgesondheid; erge depressie en selfmoordgedagtes (Schneider 2003:335).

 

9.  Impak op seksuele intimiteit binne die huwelik

‘n Vrou wat ‘n paar weke vantevore uitgevind het van haar man se betrokkenheid by ‘internetseks’, beskryf die effek hiervan op hul seksuele verhouding soos volg:

 

"I realize now that many of the things he most liked and requested when we made love were re-creations of downloaded images. He is unable to be intimate, he objectifies me, he objecitifies women and girls on the streets, he fantasizes when we’re together. I feel humiliated, used, and betrayed, as well as lied to and misled. It’s almost impossible for me to let him touch me without feeling really yucky and/or crying. I tried to continue being sexual with him initially (and in fact, being ‘more’ sexual, trying to fix it by being sexier, better than the porn girls), and I coudn’t do it" (Schneider 2003:336).

 

10.  Die implikasie van vroue se aktiwiteite op die net

Daar is tot op hede relatief min literatuur wat spesifiek handel oor vroue se betrokkenheid by ‘interseks’. Die bydraes deur Ferree (2003) en Richards (2003) is van die enkeles in hierdie verband. Volgens Richards (2003:60) is een uit elke ses vroue verslaaf aan pornografie. Sy wys verder op resultate van die navorsingsorganisasie, Zogby International, wat aantoon dat 17% van vroue vas oortuig is dat hulle seksuele vervulling kan ervaar op die internet. ‘n Belangrike bydraende faktor in hierdie verband is vroue se algemene behoefte aan emosionele verbintenis. Hierdie behoefte word aanvanklik vervul deur middel van aksies via die internet, maar uiteindelik lei dit in 80% van gevalle tot werklike fisiese kontak. “Women, far more than men, are likely to act out their behaviors in real life, such as having multiple partners, casual sex, or affairs” (Richards 2003:62). Volgens Ferree (2003:392) moet beraders, veral ten opsigte van vroue wat verslaaf is aan ‘internetseks’, op die uitkyk wees vir aspekte soos die volgende:

·        Affektiewe versteurings

·        Post traumatiese stres

·        Psigiatriese en somatiese simptome

·        Verhoudingsprobleme ten opsigte van huweliksmaats

In talle gevalle blyk hierdie die dieperliggende oorsake te wees van ‘n soeke na emosionele vervulling op die internet.

Aan die hand van die volgende aantal kategorieë bespreek Ferree (2003:390) die implikasies van vroue se betrokkenheid by ‘internetseks’:

 

10.1  Gedragsdimensie

‘Internetseks’ is geneig om in te meng met normale verantwoordelikhede en veroorsaak stres. Die impak kan egter ook nog meer intens wees, soos beskryf deur Ferree (2003:390):

 

"Similar to how marijuana is often a gateway to harder drugs, even recreational use of Internet sex exposes a woman to the possibility of progressing into addiction. For some people, web connections prompt almost instant addiction, much like the highly addictive nature of cocaine."

 

10.2  Fisiese dimensie

Vroue wat hoofsaaklik seksuele vervulling via die internet soek, mag op ‘n stadium ervaar dat hulle probleme ervaar met betrekking tot intimiteit binne die huwelik. Die klandestiene en geïsoleerde aard van seks op die web stimuleer nie die spontaneïteit en vryheid wat noodsaaklik is vir gesonde interaksie met iemand in die werklike wêreld nie.

Vroue wat verslaaf raak aan pornografie is ook geneig om ‘n swak selfbeeld te ervaar aangesien hulle hul eie liggame vergelyk met die oënskynlik volmaakte liggame van die modelle aanlyn. “In this contest, a woman will always lose” (Ferree 2003:390).

Gesonde selfsorg is nog ‘n aspek wat dikwels verwaarloos word aangesien daar ál minder tyd hiervoor is. Veertig persent van vroue wat binne die kategorie val van ‘internetseks’ verslaafdes, spandeer 11-20 ure op die internet per week. Dertig persent spandeer 31-40 ure per week (Ferree 2003:391).

 

10.3  Persoonlike dimensie

Hier gaan dit veral oor die betrokke individu se persoonlike trauma geskiedenis. Uit navorsing het geblyk dat 76,2% van vroulike ‘internetseks’ gebruikers ‘n geskiedenis het van seksuele misbruik, terwyl 52,4% ‘n probleem ondervind met post traumatiese stres (Ferree 2003:391).

 

10.4  Verhoudings dimensie

In die geval van 68% van egpare waar daar sprake was van ‘internetseks’, het een of beide van die partye belangstelling in seksuele intimiteit binne die huwelik verloor. Daar word ook gewys op die skade wat kinders heel dikwels binne so ‘n gesin ervaar as gevolg van die groot mate van afwesigheid van die betrokke ouer (Ferree 2003:391).  ‘n Groot persentsie van hierdie kinders beleef ook talle van die argumente rondom hierdie aangeleentheid in die huis (Schneider 2003:344). Verder gebeur dit ook dat van hierdie kinders self blootstelling aan sommige van die pornografiese materiaal kry. Daar word gewys op gevalle waar kinders ingestap het waar die ouer besig was met interaktiewe seks aanlyn. Schneider (2003:345) haal die volgende ontstellende woorde van ‘n 27-jarige vrou aan: 

 

"My daughter caught him masturbating once and told me about it. I felt sick. I am scared that someday, when she gets to the age of the women that he likes to look at, that he will hurt her. I try not to dwell on this. I am also confused about how to talk to my children about love, sex, and masturbation. What do I tell my son? What do I tell my daughter?"

 

11.    Pastorale riglyne vir beraders

Teen die agtergrond van die bespreking tot dusver, word daar vervolgens ‘n aantal praktiese stappe en riglyne voorgestel ter begeleiding van die persoon wat vasgevang geraak het in ‘internetseks’ (Laaser 1996:127; Laaser 2001:43; Laaser 2003:145; Carnes 2001:77; Coetzer 2004:52; Ferree 2003:392; Chaney & Dew 2003:272; Whitty 2003:576; Schneider 2003:351).

Dit gebeur nie sommer dat ‘n verslaafde aan ‘internetseks’ deur ‘n eie wilsbesluit en op eie inisiatief loskom nie. Individuele berading op sigself is gewoonlik ook nie voldoende nie en veral gedurende die vroeë stadiums is berading tesame met die wisselwerking van ‘n ondersteuningsgroep baie meer effektief. Dit is gevolglik ook sinvol om ingestel te wees op diegene in jou praktyk of gemeente wat in ‘n herstelproses is en hulle dan in kontak met mekaar te bring.

Verder is dit belangrik om self geestelik waaksaam te wees. Wees daarop bedag dat betrokkenheid in hierdie area jou kan blootstel aan beelde en beskrywings ten opsigte van seksualiteit wat vir jou nuut en selfs oorweldigend kan wees. Bewaar gevolglik jou eie hart teen die versoekings van die bose. Indien jyself nie seksueel gesond en heel is nie, moet jy nie eers oorweeg om andere op hierdie area te probeer begelei nie. In hierdie verband moet die waarskuwing van 1 Petrus 5:8 deurgaans ernstig opgeneem word:

 

Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.

 

In die proses van die pastorale begeleiding van die internetverslaafde kan daar vervolgens veral gefokus word op die volgende elemente:

·        Evaluering

·        Die opstel van ‘n behandelingsprogram

-          Psigodinamies

-          Kognitief

-          Relasioneel

-          Geestelik

 

11.1  Evalueer

Die klassieke tekens van verslawing wat gewoonlik dui op ‘n patroon van aktiwiteit wat met verloop van tyd buite beheer geraak het, is die volgende:

·        Die persoon het al beplan om te stop, of besef dat hy/sy dit behoort te doen.

·        Eskalerende patrone van aktiwiteite gekoppel aan die verslawing.

·        Meer en meer tyd en geld wat spandeer word.

·        Die gevolge van die gedrag raak gaandeweg al meer ernstig en intens.

·        Die persoon wat al meer verslaaf raak, sal die aktiwiteit gebruik as ‘n tipe ‘medikasie’ vir stres, angs, depressie, alleenheid of woede.

Christene wat op hierdie wyse verslaaf raak, sal ‘n uitgebreide stel verdedigings-meganismes konstrueer ten einde hul aktiwiteite te regverdig. Geestelike onvolwassenheid speel gewoonlik ‘n rol binne hierdie meganismes, terwyl vorme van ontkenning en minimalisering ook baie algemeen is.

Daar moet ook ingedagte gehou word dat verslawing aan ‘internetseks’ deel kan wees van ‘n groter patroon van romantiese en seksuele verslawing aan pornografie, prostitusie en verhoudings. Verder is dit ook so dat die verslaafde aan ‘internetseks’, tipies ook ‘n kompulsiewe spandeerder kan wees, ‘n alkohol of dwelm verslaafde of ook verslaaf kan wees aan kos (om net enkeles te noem). In so ‘n geval sal bepaal moet word watter van die verslawings eerste aandag moet geniet.

Whiteman en Peterson (2002:109) gee die volgende lys van vrae ten einde vas te stel of daar moontlik ‘n probleem rondom internet verslawing mag wees:

·        Gebeur dit oor die algemeen dat jy tred verloor met die hoeveelheid tyd wat jy aanlyn spandeer?

·        Probeer jy dig hou en is jy geheimsinnig met betrekking tot dit waarmee jy besig is op die internet?

·        Ervaar jy obsessiewe gedagtes met betrekking tot die vraag na hoe jy weer by die internet kan uitkom?

·        Argumenteer jy gereeld met jou huweliksmaat of gesinslede ten opsigte van die tyd wat jy op internet spandeer?

·        Probeer jy om die webadresse wat jy besoek geheim te hou?

·        Is jy geneig om minder tyd met jou huweliksmaat te spandeer as gevolg van jou aanlyn aktiwiteite?

·        Indien jy toegang tot internet by die werk het: het die tyd wat jy op internet spandeer ‘n invloed op jou werksprestasie?

·        Indien jy met vakansie is of vir ‘n week of meer weg van die internet: vind jy dat jy gepreokkupeerd is met gedagtes om terug te keer huis toe om by jou rekenaar uit te kom, of om êrens aanlyn te kan kom?

·        Doen jy dinge of sê jy dinge aanlyn wat jy nie sou wou hê jou huweliksmaat van moet weet nie?

·        Begin jy ‘n vertrouensverhouding opbou met ‘n aanlyn metgesel of sê jy dinge aan hom of haar wat jy geheim sal wil hou vir jou huweliksmaat?

·        Ervaar jy seksuele opwekking wanneer jy aanlyn is?

·        Is jy op soek na seksuele stimulasie via internet?

Die doel van hierdie vraelys is bloot om ‘n aanduiding te verkry van gevaarseine wat reeds mag flikker.

 

11.2  Stel ‘n behandelingsprogram op

Ten einde die verslawende greep van internetseks te verbreek, sal ‘n aantal komponente in plek gestel moet word. Wat hul gedrag betref, sal verslaafdes bereid moet wees om aanspreeklik (accountable) te wees. Op hierdie wyse kan alle reaktiewe gedrag asook rituele gedrag wat gewoonlik uitloop op die verslawende aktiwiteit, gemonitor word (Gallagher 2004:126; Whiteman & Peterson 2002:142). ‘n Lys van webadresse wat spesifiek verband hou met moniteringsprogramme word verder in hierdie artikel verskaf.

 

11.2.1     Psigodinamies

Psigodinamies is dit so dat verslaafdes in talle gevalle worstel met intense emosionele wonde, soms reeds vanuit kinderjare. Navorsing het byvoorbeeld aangetoon dat 80% van alle seksueel verslaafdes blootgestel was aan seksuele misbruik tydens kinderjare. Vanuit misdaad verslae van die Michigan State Police het geblyk dat vanuit 38,000 gevalle van seksueel verwante geweldsmisdaad daar 41% was waar die gebruik van pornografie baie prominent was (Coppock 2003:131). Verder blyk ook dat skaamte, wat verband hou met die gevoel dat hulle slegte en waardelose mense is, ‘n basiese komponent is ten grondslag van die soeke na aanvaarding op die internet.

Dit is gevolglik sinvol om die verslaafde soveel moontlik aan te moedig om oor sy/haar gevoelens te praat. Kyk of die persoon ‘n verband kan lê tussen enersyds tye van verveeldheid, stres, angs, vrees, alleenheid, woede, en andersyds tye van seksuele wangedrag (times of sexually acting out).

Deur middel van pastorale berading sal daar stap vir stap saam met hierdie persoon as’t ware deur sy/haar hele verlede beweeg moet word. Elke emosionele wond sal geïdentifiseer, deurgewerk en uiteindelik in gebed ook hanteer moet word.

 

11.2.2     Kognitief

Kognitief moet die verslaafde die wyse verander waarop hy/sy dink oor hulself en ook oor die wêreld rondom hulle. Hulle denke is oor die algemeen gevul met die verdraaide seksuele mitologieë van ons huidige kultuur en die berader sal gevolglik voorbereid moet wees om die kliënt op te voed betreffende gesonde seksualiteit. Talle beradenes het byvoorbeeld in hierdie verband aangedui dat

hulle onder andere ‘n behoefte het aan meer toerusting aangaande ‘n Bybelse siening van gesonde seksualiteit.

 

11.2.3     Relasioneel

Die huwelike van internet verslaafdes word op relasionele vlak intens geaffekteer. Verhoudinge is oor die algemeen vertroebel en heel dikwels sal dit dan ook die huweliksmaat van die verslaafde wees wat in desperaatheid die beradingsproses inisieer. Om die verslawing te konfronteer, kan ook ‘n besondere geleentheid skep vir ‘n egpaar om nuwe dieptes van intimiteit te ontdek. Beide sal egter hulp benodig namate daar deur hierdie spesifieke vorm van ontrouheid gewerk word. Hulle sal byvoorbeeld gehelp moet word om uitdrukking te gee aan hulle gevoelens van alleenheid en woede. Dit is ook deurslaggewend dat hulle wedersyds moet ooreenkom betreffende toekomstige grense, en in hierdie proses mekaar ondersteun.

Whiteman en Peterson (2002:147) gee ‘n baie sinvolle beskrywing van die tipiese roufases waardeur beide die internetverslaafde sowel as die huweliksmaat begelei moet word: ontkenning, woede, onderhandeling, depressie, aanvaarding en restorasie.

 

11.2.4     Geestelik

Geestelik is talle verslaafdes vasgevang in ‘n tipe van adolessensie denke. Hulle is kwaad vir God en wonder waarom Hy hulle nie genees het van hulle wellus nie. Hulle kan ook baie selfgesentreerd en narsisties (selfliefde) wees. Hulle moet egter aangemoedig word om deel te neem aan gesonde Christelike interaksie. Hulle sal ook begelei moet word rondom aspekte soos gebed en Bybelstudie, wat uiteindelik dan ook kan uitloop op ‘n groter afhanklikheid van God. Sulke persone mag intellektueel moontlik wel êrens in die verlede ‘n keuse vir God gemaak het - emosioneel en geestelik het hulle heel dikwels egter nog nie ‘n oorgawe gemaak nie. Hulle het ook in sommige gevalle nog nie hulle verslawing werklik aan Hom oorgegee nie.

 

12.    Praktiese wenke met betrekking tot internet verslawing

·        Maak gebruik van ‘n internet filter diens – daar is talle soortgelyke Christelike dienste tans beskikbaar (sien lys van webadresse by 11.1.1).

·        Plaas die rekenaar in ‘n publieke eerder as private deel van die huis.

·        Diegene in die gesin wat nie met verslawing ‘n probleem het nie behoort in beheer te wees van  toegangskodes (passwords) tot die internet.

·        Daar is ook dienste via internet beskikbaar wat iemand verskaf teenoor wie verslag gedoen word  (accountability partner), tesame met ‘n rekord van alle webadresse wat die afgelope maand besoek is (sien 11.1.2). ‘n Verslaafde wat in die rehabilitasie proses is, sal bereid moet wees dat sy/haar betrokkenheid by internet op enige stadium volledig gemonitor en hersien kan word.

·        Die inskakeling by ‘n terapeutiese kleingroep sowel as ‘n geestelike kleingroep (selgroep/groeigroep) is van kardinale belang. Hiermee saam is gebedsondersteuning ook van deurslaggewende aard.

 

12.1    Filtrering van die web

12.1.1     Sagteware

Filtering Internet Service Providers (ISPs) is daarop ingestel om webadresse asook eposse te blokkeer wat sekere onaanvaarbare terme of foto’s bevat. Dit help om die siklus van verslawing te verbreek. Dit dien egter slegs as hulpmiddel en is nie algeheel betroubaar nie. Hierdie hulpmiddele is ook nie veronderstel om die betrokke persoon se eie verantwoordelikheid te vervang nie.

 

§  Integrity Online
Een van die grootste filtreringsdienste.
http://home.integrity.com

§  Setting Captives Free

Voorsien ‘n gefiltreerde diensverskaffer asook sagteware.

www.settingcaptivesfree.com

§  ChristianLiving.com
Bied ‘n gefiltreerde internet diens.

www.christianliving.com

Whiteman en Peterson (2002:199) gee ook nog die volgende lys:

-          CleanSurf

-          CleanWeb

-          ClearSail

-          Covenant Promotions

-          CyberPatrol

-          EiS Global

-          FaithHighway.com

-          FamilyConnect.com

-          FilterReview.com

-          GetNetWise

-          Hedgebuilders

-          iFriendly

-          Internet Filter Software

-          1USA.com

-          pkFamily.com

-          SurfWatch

 

12.1.2    Moniteringsprogramme

Hierdie programme monitor die webadresse wat jy besoek het en stuur ‘n lys daarvan na ‘n persoon van jou keuse.

§  Covenant Eyes

Bied ‘n moniteringsfunksie – ondersteun deur Focus on the Family en Promise Keepers

www.covenanteyes.com

 

§  X3watch Accountability Software

Dit is ‘n gratis program wat geborg word deur xxxchurch.com – ‘n anti-pornografie webbladsy wat veral op tieners gefokus is.
www.x3watch.com

 

12.1.3    Programme/bedieninge

Daar is verskeie organisasies wat via die internet ‘n verskeidenheid van hulpdienste aanbied ten opsigte van die probleem van ‘internetseks’. Alhoewel meeste hiervan hoofsaaklik in die VSA gevestig is, is hulle fokus is oor die algemeen baie sterk op internetgebruikers gerig en sommige van hulle bied ook gespreksgroepe aan via die internet. Verder is daar ‘n magdom van literatuur, maandelikse nuusbriewe, tydskrifte, kassette, CD’s en gemodereerde e-pos ondersteuningslyste. Vervolgens enkele van hierdie webadresse: 

§  Woodmont Hills Counseling Ministry

§  www.bethesdaworkshops.org

§  Faithful & True Ministries
 www.faithfulandtrueministries.com

§  National Council on Sexual Addiction and Compulsivity
 www.ncsac.org

§  Pure Intimacy
 www.pureintimacy.org

§  Pure Life Ministries
 www.purelifeministries.org

§  Bethesda Workshops

§  bethesdaworkshops.org

 

Hierdie webadresse het weer koppelings met ander soortgelyke adresse waar daar ook verskillende areas van spesialisasie is.

 

13.  Samevatting en konklusie

In hierdie artikel is aandag gegee aan die steeds groeiende omvang van die probleem van preokkupasie met seksuele aktiwiteit geassosieer met internetgebruik. Dit is ‘n probleem wat die potensiaal het om persoonlike verhoudings te vertroebel en huwelike te laat opbreek. Ten opsigte van aanleidende faktore het geblyk die verleidelike aard van die internet ‘n groot rol te speel. Vanweë verskillende redes blyk hierdie probleem ook ‘n besondere aantrekkingskrag te hê ten opsigte van vroue, met dan destruktiewe gevolge ten opsigte van huwelike en kinders.  Pastorale riglyne wat ook ‘n behandelingsprogram insluit, is uitgespel. Praktiese wenke, tesame met ‘n aantal belangrike webadresse van organisasies met heelwat tersaaklike dienste en bronne, is ook bespreek.

 

 

Geraadpleegde bronne

APA

kyk AMERICAN PSYCHIATRIC ASSOCIATION (APA)

AMERICAN PSYCHIATRIC ASSOCIATION (APA). 1994. Diagnostic and Statistical Manual of Mental

Disorders. 4th ed. Washington, DC.

ARTERBURN S

             1996.  The addiction challenge.  Christian Counseling Today, 4(4): 8-11.

CARNES P

             2001. Out of the shadows. Understanding sexual addiction. Center City, Minnesota: Hazelden.

CHANEY M P & DEW B J

2003.  Online experiences of sexually compulsive men who have sex with men. Sexual Addiction & Compulsivity, 10:259-274.

COETZER W C

            2004.  Seksualiteit. Ongepubliseerde studiehandleiding rondom seksualiteit. Potchefstroom.

COETZER W C

            2005. Pastorale begeleiding van die seksueel verslaafde. In die Skriflig, 39(4):753-772.

COPPOCK M

2003.  Wrestling with angels. The sexual revolution confronts the Church. Eugene, Oregon: ACW Press.

FERREE M C

2003.  Women and the web: cybersex activity and implications. Sexual and Relationship Therapy, 18(3): 385-393.

GALLAGHER S

             2000.  At the altar of sexual idolatry. Dry Ridge, USA: Pure Life Ministries.

GALLAGHER S

             2004.  A Biblical guide to counseling the sexual addict. Dry Ridge, USA: Pure Life Ministries.

GALLAGHER S

2005.  How America lost her innocence. A history of sexual revolution. Dry Ridge, USA: Pure Life Ministries.

GREGOIRE J & JUNGERS C

2004.  Sexual addiction and compulsivity among clergy: how spiritual directors can help in the context of seminary formation. Sexual Addiction & Compulsivity, 11:71-81.

INTERNET WORLD STATS

            2005. Internasionale statistieke ten opsigte van internet gebruikers. [Aanlyn] Bekom van:

            http://www.internetworldstats.com/stats.htm [2005, 12 September].

KING S

2003.  The impact of compulsive sexual behaviors on clergy marriages: perspectives and concerns of the pastor’s wife. Sexual Addiction & Compulsivity, 10:193-199.

 

LAASER M R

             1996.  Faithful and true. Sexual integrity in a fallen world. Grand Rapids, Michigan: Zondervan.

LAASER M R

             2001.  Cyber sex addiction. Christian Counseling Today, 9(2):38-43.

LAASER M R

             2003.  Pastors and sexual addiction. Sexual Addiction & Compulsivity, 10:139-149.

MAKGALEMELE T

             2003. Dad uses ‘net to rape daughter. Saturday Star 21Junie, p.1.

PAMPLIN N

            2003. Eks-marinier in hof nadat hy kind glo in lokval lei. Beeld 18 Julie, p.3.

RICHARDS, R.

2003.  Dirty little secret.  Today’s Christian Woman, 25(5):58-67.

SCHNEIDER, J.P.

2003.  The impact of compulsive cybersex behaviors on the family. Sexual and Relationship Therapy, 18(3): 329-354.

VERSLUIS, J. 2003.

Toegang tot internet deur selfone dra by tot oortredings – styging in kinderpornografie. Beeld: 6, Jan.15.

WHITEMAN, T. & PETERSON, R.

2002.  Your marriage and the Internet. Grand Rapids, Michigan: Fleming H. Revell.

WHITTY, M.T.

2003.  Pushing the wrong buttons: men’s and women’s attitude towards online and offline infidelity. Cyber Psychology & Behavior, 6(6): 569-579.

 

Kernbegrippe

-        Internetseks

-        Internet

-        Pornografie

-        Seksualiteit

-        Huwelik en gesin

-        Verslawing

 

Key concepts

-        Cybersex

-        Internet

-        Pornography

-        Sexuality

-        Marriage and family

-        Addiction