Galasiërbrief

Die Galasiërbrief beoordeel teen die agtergrond van die antieke brief genre asook die Grieks-Romeinse retoriek

 

Prof Wentzel Coetzer

 

1.     Inleidend

Die Galasiërbrief is ‘n tipiese voorbeeld van die ‘apologetiese briefgenre’ wat sy oorsprong in die Sokratiese tradisie het en waarvan Plato een van die beroemdste eksponente was. Dit is baie moeilik om die geskiedenis van hierdie besondere genre (literêre vorm) na te speur aangesien meeste van die literatuur hieroor nie behoue gebly het nie.

Om die apologetiese briefgenre te verstaan is dit belangrik om op hoogte te wees van basiese beginsels binne die antieke Grieks-Romeinse retoriek (wyse van toespraak lewering en argumentasie) asook die reëls rondom epistolografie (skryf en uitleg van briewe) binne die antieke wêreld.

Die apologetiese brief veronderstel die werklike of fiktiewe konteks van die geregshof met ‘n jurie, die beskuldiger en die verdediger. In Galasiërs is die geadresseerdes die jurie; Paulus is die verdediger en sy teenstanders (na wie slegs verwys word) is die aanklaers. Dit beteken dus dat Paulus se brief nou ‘n selfverdediging of selfverantwoording (self-apologie) is.  Paulus kan nie teenwoordig wees om homself te verdedig nie en daarom word die brief nou geskryf en bevat dit die toespraak wat hy voor die jurie sou lewer. Deur middel van die brief moet hy probeer bereik dit wat hy andersins deur sy persoonlike oorredingsvermoë sou wou doen.  Hy sal gevolglik alles in sy vermoë moet probeer doen en alle middele moet probeer aanwend om te kompenseer vir die feit dat hy nie persoonlik aanwesig is nie.

Hy verlaat homself gevolglik veral op die metode van die retoriek as die ‘kuns van oorreding.’  Dit was so dat hierdie metode nie deur almal met dieselfde agting bejeën is nie aangesien dit sprekers met besondere vaardighede in die geleentheid gestel het om mense heeltemal te oorweldig en te beïnvloed. Paulus het ‘n besonder moeilike taak om hierdie mense te oortuig van sy standpunt aangesien meeste van die argumente wat hy gaan aanvoer ‘abstrakte’ argumente is en nie soseer om konkrete en letterlike dinge gaan nie. Hy maak gevolglik gebruik van verskillende tegnieke om hierdie probleem te oorbrug.

·       Al sy argumente berus byvoorbeeld op bewyse van ‘n bonatuurlike aard. ‘n Gewone jurie sou egter nie hieroor kon uitspraak gee nie en gevolglik los Paulus die probleem op deur die Galasiërs self as ‘geestelike mense’ (pneumatici) in 6:1 aan te spreek – dit kwalifiseer die Galasiërs as mense wat in staat is om oor die dinge van die Gees te oordeel. Pneumatici is onder andere mense wat nie ‘op die gesonde verstand alleen vertrou nie’. Nie net die regter nie maar ook hulle gaan dus ‘n oordeel fel.

·       Paulus gebruik ook nog ‘n ander strategie om die beperkinge van die apologetiese brief te bowe te kom. Die brief begin met ‘n vervloeking van elkeen wat dit sou waag om af te wyk van die evangelie soos Paulus dit verkondig het (1:8-9). Aan die einde van die brief is daar ‘n seënwens (6:16) oor almal wat getrou bly aan Paulus se evangelie. Dit impliseer dat literêr gesproke, die Brief aan die Galasiërs as dokument wat vervloeking en seën bevat, nou ook tot die kategorie van die sogenaamde ‘magiese briewe’ behoort. Hierdie is ‘n kategorie van briewe wat ook bekend is vanuit die antieke briefliteratuur en formules rondom seën en vervloeking was een van die tipiese kenmerke hiervan.

Paulus verlaat homself dus nie slegs op die kuns van oorreding en die rasionele argumentering van die antieke retoriek nie. Verder laat hy dit ook nie maar net oor aan die Galasiërs om die redelikheid van sy saak te beoordeel nie – al beskou hy hulle as pneumatici. Hy gaan egter ‘n tree verder deur gebruik te maak van die formule van vervloeking en seën waardeur hy hulle eintlik konfronteer met die keuse tussen redding en verderf.

Wat die magiese brief betref, is die leser in ‘n sekere sin ‘n beoordeelde. Met ander woorde, hy word geseën as hy doen wat die brief beveel, en vervloek as hy die inhoud nie nakom nie.

Deur dus van hierdie metodes gebruik te maak slaag Paulus in ‘n groot mate daarin dat sy lesers hom as ‘teenwoordig’ ervaar en kom hy die tekortkominge van die brief as ‘n blote geskrif te bowe.

 

2.     Raamwerk van die Galasiërbrief

2.1.  Prescriptum (1:1-5) – opskrif

Hierdie gedeelte volg die basiese patroon van die meeste Pauliniese briewe. Dit bevat die volgende elemente:

·        Naam van sender

·        Titel van outeur asook ‘n omskrywing daarvan

·        Name van mede-outeurs

·        Benoeming van geadresseerdes

·        ‘n Groet en ‘n doksologie (verheerliking van God).

 

2.2.  Exordium (1:6-11) – inleiding

Tradisioneel was daar vier metodes waardeur die aandag van die hoorders gewen kon word:

·        Bekendstelling van die spreker se eie persoon.

·        Die karakterisering van die teenstanders.

·        Die karakterisering van die hoorders.

·        Die stel van die feite rondom die betrokke aangeleentheid.

Paulus maak gevolglik van al vier metodes gebruik in hierdie gedeelte.

Die uitdrukking van verbasing in 1:6 is opmerklik aangesien dit destyds een van die bekendste tegnieke was om ‘n gehoor wat nóg vyandig nóg heeltemal aan die kant van die spreker, oor te haal ten gunste van die spreker.

Die dubbele vervloeking in 1:8-9 is meestal in gevalle gebruik waar daar rede was om te vermoed dat die regter bevooroordeeld is, waarskynlik deur die voorafgaande toespraak van die opponent. Hierdeur is dan ‘n dreigement aan die regter voorgehou, byvoorbeeld dat sy moontlike omkopery aan die lig gebring sal word. So ‘n vervloeking of dreigement is egter volgens die reëls van die retorika net in uiterste gevalle as toelaatbaar beskou.

 

2.3.  Narratio (1:12-2:14) – vertelling

In hierdie gedeelte gaan dit om die aanbieding van die feite van die saak en hier was geen vaste reëls nie. Elke spreker moes self die metode wat hy gaan volg, bepaal volgens die doel wat hy wil bereik en volgens die aard van die saak wat hy wil stel. Soos reeds vermeld, stel  Paulus in Galasiërs die tersaaklike gegewens aan die orde soos in ‘n verhoor voor ‘n regter.

Van besondere belang is die ontkenning in 1:11-12 waarmee hy die narratio gedeelte inlei. Hierdie is die werklike twispunt waarom die hele saak gaan. Die ontkenning alleen is egter nie genoegsaam nie en die verdediger moet daarnaas ook die feite op grond waarvan hy anders beoordeel wil word, meedeel. Die vertelling gedeelte moet dus die saak  breër uiteensit en die nodige agtergrond materiaal voorsien.

Paulus bied gevolglik in hierdie gedeelte ‘n uitgebreide vertelling van die feite rondom die omstandighede van die saak. In hierdie verband vertel hy ‘n deel van sy eie lewensverhaal omdat dit betrekking het op die saak. Daarna kom die geskiedenis van die probleem aan die orde. Die vertelling (narratio) kan gevolglik in drie dele verdeel word:

·        1:13-34: sy lewe in die heidendom en latere roeping tot apostel.

·        2:1-10: die apostel vergadering in Jerusalem.

·        2:11-14: die konflik in Antiochië.

Die doel van al die gegewens wat in hierdie narratio gedeelte aangebied word, is gevolglik om die ontkenning in 1:11-12 te ondersteun.

Interessant in hierdie gedeelte is die eed in 1:20. Ook in hierdie geval is dit belangrik om in gedagte te hou die groot kontak tussen die historiese wortels van die Christendom en die Romeinse wet. Paulus se aanvanklike lesers het oor hierdie agtergrondskennis beskik en sou sy aanwending van wettiese terme en metodes verstaan. Die aanwending van ‘n eed was een van die metodes om ‘n hofsaak kort te knip en te verhoed dat dit sy volle gang gaan. Die vorm van die eed wat Paulus hier gebruik (iusiurandum necessarium; teenoor byvoorbeeld ‘n ander gebruik daarvan, iusiurandum voluntarium, normaalweg buite die hof) is gewoonlik geuiter deur die persoon wat aan die woord is in die hof en die verdediger moes daarop reageer met betrekking tot die waarheid al dan nie van sy eie aantygings. Indien die verdediger ook bereid was om dieselfde eed te neem, dan het hy die saak gewen. In plaas daarvan om te sweer, kon die verdediger egter die eed aan die spreker terug gooi deur te sê, “sweer jy dat jou argumente waar is?” Indien die spreker dan bereid is om dit te doen, het hy die saak gewen. Indien die spreker nie bereid is nie, verloor hy die saak. Indien die verdediger nie bereid is om die eed te neem of om dit terug te gooi nie dan het hy die saak verloor.

Deur dus die eed te neem, bevestig Paulus soveel te meer die waarheid van dit wat hy sê en toon aan sy lesers dat hy selfs bereid is om die uiterste poging aan te wend wat in die geval van ‘n hofsaak die saak finaal sou beslis.

 

2.4.  Propositio (2:15-21) – die stelling

In hierdie gedeelte moet die verdediger duidelik aantoon wat die punte van ooreenstemming asook punte van verskil is tussen hom en sy opponente. Die inhoud van hierdie gedeelte kan dan soos volg ingedeel word:

·        2:15-16: dit wat hy en sy opponente in gemeen het.

·        2:17-18: dit waaroor hulle verskil.

·        2:19-20: ‘n kort opsomming van die argument waarmee hy verder besig sal wees en wat ook as oorgang dien tot die volgende gedeelte.

 

2.5.  Probatio (3:1-4:31) – bewysvoering

Hierdie is die beslissende deel van die toespraak van die verdediger en dit bepaal of die toespraak slaag of nie. Die voorafgaande dele van die toespraak dien eintlik net as inleiding en voorbereiding op hierdie sentrale deel. Die doel van hierdie gedeelte is om deur ‘n bepaalde samehang van argumente die geloofwaardigheid van die verdediger se saak te bevestig.

Die saak wat nou aan die orde gestel word is dat Paulus binne sy reg gehandel het toe hy die gemeente van Galasië gestig het.

Interessant is die feit dat die mense wat in die brief aangespreek word, en dus hier die rol vervul van die ‘jurie’ wat die argument moet aanhoor en beoordeel, self ook ooggetuies was van die saak waaroor dit gaan, naamlik die stigting van die gemeente. Dit gee aan Paulus gevolglik die geleentheid om te argumenteer asof die ooggetuies self in die hof is.

In hierdie selfde gedeelte kan Paulus verder steun op een van die sterkste moontlike argumente naamlik die onbetwisbare getuienis van die hoorders se eie ervaring – laasgenoemde is gekoppel aan die gawe van die Heilige Gees wat aan hulle gegee is. Dit impliseer dat Paulus homself hier op getuienis van bonatuurlike aard kan beroep en vir die antieke retoriek was dit getuienis van die hoogste graad. Hulle kan dus uit eie ervaring beoordeel of hy die waarheid spreek al dan nie.

 

2.6.  Paraenesis (5:1-6:10) – vermaninge

Binne die filosofiese briewe van destyds was daar dikwels ‘n vermanende gedeelte aan die einde. In die Brief aan die Galasiërs is die vermaninge wat na die uiteensetting van die saak volg, ook ‘n aanduiding van die spreker se oortuiging dat hy die saak teen hom weerlê het en die hoorders reeds na sy kant toe oorgehaal het.

Binne hierdie paraenesis gedeelte vorm hfst. 5 ook ‘n sterk eenheid op sy eie en die inhoud daarvan kan soos volg ingedeel word:

Blok 1: 5:1 – Vryheid teenoor diensbaarheid

Blok 2: 5:2-6 – Christus teenoor die besnydenis

Blok 3: 5:7-12 – Die verleiers

Blok 4: 5:13-15 - Vryheid skep ‘n dubbele moontlikheid

Blok 5: 5:16-18 – Vlees en Gees

Blok 6: 5:19-21 – Die vlees en sy werke

Blok 7: 5:22-24 – Die Gees en Sy vrug

Blok 8: 5:25-26 – Slotsom: wandel deur die Gees – laat Hom toe om jou gedrag te bepaal.

Die groter gedeelte wat begin met blok 1 (vv.1-12) asook die gedeelte wat begin met blok 4 (vv.13-26) word beide ingelei met die begrip ‘vryheid’. In blokke 1-3 is daar veral die teenstelling tussen Christus en die besnydenis. In blokke 4-8 word hierdie teenstelling voortgesit maar nou gaan dit om die Gees teenoor die vlees (sondige menslike geaardheid).

Die term, ‘mekaar’, kom vyf keer voor in blokke 4-8 en dit is belangrik aangesien dit die klem plaas op die feit dat dit gaan om vermaninge met betrekking tot onderlinge verhoudinge wat skeef geloop het.

Die frases ‘wandel na die Gees’ (of gelei/beheers word deur die Gees – Hom toelaat om ons gedrag te bepaal) in verse 16,18 en 25 is ook baie belangrik. Die Afrikaanse term ‘wandel’ skep maklik die indruk van ‘n luilekker nie-doelgerigte rondstap. Die fokus hier is egter gerig op die mens se totale lewenswandel wat onder die beheersing van die Gees van God moet staan. In hierdie verhouding waarin die mens dan tot die Gees staan, is die Gees die beslissende Persoon wie se wil gehoorsaam en doelgerig en taakgerig uitgevoer moet word (sien verse 16 en 25). Dit gaan verder ook om ‘n persoonlike lewensverbondenheid met die Gees. Iets van die Ou-Testamentiese gedagte van ‘met God te wandel’ (Henog) is hier ter sprake – ‘n baie persoonlike en innige daaglikse kontak en samesyn.

 

Die inhoud van die vermelde agt blokke (hfst 5) kan dan verder soos volg verduidelik word:

Blok 1: 5:1

Kort samevatting van hfst 5 en dien as inleiding

Blok 2: 5:2-6

Die vryheid en diensbaarheid van punt 1 word nou verder verklaar. Vryheid staan in noue relasie tot Jesus Christus en diensbaarheid in noue relasie tot die besnydenis

Blok 3: 5:7-12

Hier word op die negatiewe kant van die verleiers gekonsentreer en die Galasiërs word aangemoedig om hulself nie weer te laat besny nie.

Blok 4: 5:13-15

Hier verskuif die klem weer na die positiewe. Die vryheid skep ‘n dubbele moontlikheid: aan die een kant kan hulle mekaar deur liefde dien; aan die ander kant is daar die moontlikheid vir die vlees om die botoon te voer en die broederlike verhoudings te vertroebel

Blok 5: 5:16-18

Hier word nie verder uitgebrei op die dubbele moontlikheid wat in punt 4 genoem is. Dit gaan nou ook om die stryd tussen vlees (sondige menslike natuur) en Gees. In v.18 is daar alreeds ‘n heenwysing na die oplossing.

Blok 6: 5:19-21

Hier val die klem op die negatiewe kant van die reeds vermelde dubbele moontlikheid, naamlik die vlees of die sondige menslike geaardheid.

Blok 7: 5:22-24

Hier val die klem op die positiewe kant van die dubbele moontlikheid naamlik die Heilige Gees en Sy vrug.

Blok 8: 5:25-26

Paulus se slotsom hier aan die einde van hfst. 5 is dat oorwinning alleen moontlik is indien die mens totaal onder die beheer van die Heilige Gees staan. Dit is die inhoud van v.25 wat basies die kern en wentelpunt van hierdie hoofstuk is. Dit is dus wel moontlik om uit die dubbele moontlikheid wat die vryheid bied, die positiewe te kies en dit ook te handhaaf.

Een van die skreiendste behoeftes van die Christendom van ons tyd is dié aan lewensheiliging en die boodskap van die kerk word by voorbaat verlam omdat die lewens van Christene nie ‘n illustrasie is van hierdie lewensveranderende krag van die Gees van God nie. Paulus se opdrag om ‘te wandel na die Gees’ (Nuwe Afr Vert: Die Gees toelaat om ons gedrag te bepaal) moet dus opnuut ernstig opgeneem word.

 

2.7.  Postscript (6:11-18) – slot

Hierdie gedeelte word nou in Paulus se eie handskrif toegevoeg (6:11). Volgens die konvensies van destyds het so ‘n slot wat in die handskrif van die outeur self geskryf is, gedien om die egtheid van die brief te waarborg, die hoofpunte op te som of sake by te voeg wat die skrywer onthou nadat die formele gedeelte van die brief reeds voltooi is. Die persoonlike toevoeging wat hier so pertinent vermeld word impliseer ook dat die voorafgaande deel deur ‘n professionele briefskrywer (amanuensis) op versoek van die outeur gedoen is.

 

[Die inhoud van hierdie stuk is gebaseer op ‘n artikel deur H.D. Betz, asook bydraes deur verskillende ander navorsers met betrekking tot die Brief aan die Galasiërs]